News

Iewers in ’n paradys bly Paulus en sy vrou

Die nuwe Suid-Afrika was een te veel vir kommandant en sy volgelinge.

’n .45 Magnum hang intimiderend aan sy sy.

Die vierkleur pryk op sy bakkienommerplaat met ’n arend (wat die parkement rolle bring) en die letters BR V 10. (BoereVolk 10?)

Paulus Ferreira (77) lag maklik.

Die nommerplaat van Paulus se bakkie. Foto: Tobie van den Bergh.

’n Vriendelike laaste oorlewende van ’n groep regses wat in 1993 die nuwe Suid-Afrika agtergelaat en in ’n onherbergsame, byna onbereikbare paradys, gaan skuil het.

Die skuilplek is sowat 30 kilometer buite Middelburg.

Om daar uit te kom, is soos om die wildste wipwarit in Amerika te ry.

Dit is ’n geskud, geruk, spring en vrese dat jy die ewigheid gaan intuimel.

Wanneer Paulus waarsku: “Verskoon, hierdie stukkie is so bietjie ongeskik, ek het al my bakkie se kantspieëltjie hier afgery” dan knyp jy oë toe en stuur ’n skietgebed op.

Woorde kan dit nie beskryf nie.

Dit is nie ’n pad nie.

Die ergste gedeeltes word deur rubberbande bymekaar gehou.

Jy begin by die plato en daal dan af, en af, en af…

Die rit neem 20 minute en aan die einde voel dit asof jy uit ’n tuimeldroër klim.

Dan tref die stilte jou.

Doodse stilte.

Stilte wat jou asem wegslaan.

Soos die omgewing se skoonheid.

Die ongelooflike skoonheid van die omgewing waar Paulus bly. Foto: Tobie van den Bergh.

’n Paradys vol tropiese vrugte, piesangs, koejawels.

Tamatiebome hang vol van die heerlike vrugte.

Oorhangende rotse wat na die hemel reik omvou jou gemoed.

’n Waterval loer by die rivierstroom uit.

Onbeskryflik, ongelooflik mooi.

Speelplek van ’n trop stoute bobbejane. ’n rondloper luiperd en Paulus en sy vrou Heather.

Paulus het ses maande na die eerste groep inwoners na die stukkie paradys afgedwaal.

Daar was aanvanklik ses gesinne met kommandant Ernie Griesel leier van die groep. Hy was ’n voormalige bevelvoerder van 4 Suid-Afrikaanse Infanterie Bataljon.

Toe die nuwe veelrassige Suid-Afrika naderkruip, is hulle na die berge.

Die skuilplek het sy eie kragnetwerk. Foto: Tobie van den Bergh.

So desperaat was die groep om hulle skuilplek teen die buitewêreld te beskerm, dat hulle ’n heining by die plato gespan en ’n dierekopbeen daarop gesit het, toe joernaliste van die Middelburg Observer wou gaan ondersoek instel.

Die groep was selfonderhoudend met ’n eie gepraktiseerde hand tuimeldroër, medisinale plante waarmee ook tee gemaak is, water- en kragnetwerk, melk, vleis en groentetuin.

’n Klavier is selfs tot binne een van die spelonkhuisies gedra.

Dat hulle ’n ou spoorweg igloo tot daar gekry het, is verstommend.

Nadat die groep uitmekaar gespat het, is kommandant Griesel na Amerika.

Net Paulus en Heather het oorgebly.

Hulle leef steeds van die veld.

Geen radio, geen televisie.

Paulus wat oor die Suid-Afrika, wat al meer as 30 jaar oud is,  verklaar: “Dit is Sodom en Gomorrah.“

Wanneer jy hom vra wat is sy doel met die eensame lewenswyse sê hy: “Om voor te berei vir die wederkoms.”

Hy het begin om die Paulus-briewe oor te skryf en later die hele Bybel.

Wanneer ons later weer by die plato uitkom, sit Paulus en peins in die bakkie:

”Ek het verander, vandag dink ek anders, jy kan nie met die Bybel besig wees én haat nie.”

Die nuwe Suid-Afrika het selfs aan Paulus Ferreira kom verander.

Paulus met die vierkleur op sy bakkie en .45 Magnum aan die sy.

@middelburgobserver

Paulus en Heather (vlugtelinge van die nuwe Suid-Afrika) sit in hul woning met die Bybel wat Paulus vertaal het.

♬ original sound – MiddelburgObserver

@middelburgobserver

Paulus en sy vrou Heather is die laaste oorlewendes van ‘n groep regses wat in 1993 die nuwe Suid-Afrika agtergelaat het vir ‘n onherbergsame en byna onbereikbare paradys buite Middelburg.

♬ original sound – MiddelburgObserver

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Sjani Campher

Sjani has been working as a community journalist and photographer at the Middelburg Observer since 2018, during which she has been responsible for the content creation for both digital and print, as well as maintaining the publication's online platforms. She is a member of the Forum for Community Journalists, and focuses on fields including hard news, investigative reporting, human interest, columns and sports.
Check Also
Close
Back to top button