‘Ons gaan jou vrek skiet,’ dreig plaasaanvallers terwyl hul onderwyseres in gesig slaan
’n Onderwyseres is in die gesig geslaan en met die dood gedreig tydens ’n plaasaanval gistermiddag in die Roossenekal omgewing.
’n Bekende onderwyseres van Laerskool Roossenekal is gistermiddag op hul plaas aangeval, aanmekaar in die gesig geslaan en met wapens, waaronder ’n jaggeweer gedreig.
“Ons gaan jou vandag vrekskiet,” het een van die aanvallers in duidelike Afrikaans vir Wilma Maartens (63) gesê, terwyl hy en sy makker haar aanmekaar deur die gesig geklap het.
Volgens mnr. James Language, voorsitter van die Veiligheidsafdeling van die TLU, asook voorsitter van Landelike Veiligheid, Oosstreek, is Wilma omstreeks 17:00 by hul huis op die plaas Gelukspoort net buite Roossenekal (deel van Mapochsgronde) aangeval.
“Die erf is omhein met ‘n elektriese omheining, maar ons vermoed hulle het iewers oor ’n hek geklim.”
Wilma is na buite om hul katte kos te gee. “Toe sy omdraai, het een om die hoek gekom en haar gegryp.”
Daar was twee aanvallers. Albei se gesigte was bedek, een met ’n balaklawa en die ander een met ’n stuk lap. Terwyl hulle met haar die huis in is, het hulle handskoene aangetrek. Een het ’n jaggeweer by hom gehad en die ander een ’n pistool.
Sy is by die huis ingesleep waar hulle aanmekaar in Afrikaans geskree het: “Waar is die geld?!” en haar dan deur die gesig geklap het.

Hulle het haar ook gevra waar is haar man en gesê hulle gaan vir hom wag.
Tussendeur het hulle oorgeslaan na Engels en ’n ander inheemse taal. Sy kon nie uitmaak of hulle in Zoeloe of Sepedi met mekaar gepraat het nie.
Nadat hulle ongeduldig ’n ruk vir haar man gewag het, het hulle haar vasgemaak en op ’n stoel in ’n kas laat sit, waarna hulle by die kamer uit is en die huis omgekeer het vir enige waardevolle artikels.
Wilma het ’n skêr in die kas gekry en haarself losgesny.
Kort daarna het sy gehoor dat Sakkie (haar man) by die erf inry en sonder om aan haar eie veiligheid te dink het sy na buite gehardloop om hom te waarsku dat sy aangeval is en dat hul lewens in gevaar is. Op daardie tydstip was die boosdoeners gelukkig reeds weg.
James meld dat ander boere en die polisie vinnig op die toneel was.
Die aanvallers het te voet gekom en gevlug, wat ’n aanduiding is dat hulle moontlik afgelaai is en na die aanval weer opgelaai is. Hulle het weggekom met kontant, Wilma se selfoon en ’n skootrekenaar.
Sakkie Lourens, van Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) en sy span ondersteun die polisie in hul ondersoek.
- Dié aanval volg net vier maande na die moord op mnr. Robert Stoltz op die plaas, Hartelus. Hiertydens het die span van BMO ook gehelp met die ondersoek, waarna ’n verdagte, wat reeds ’n bekentenis afgelê het, vasgetrek is.

