Deurbraak in Robert Stoltz moordsaak – verdagte in hof vandag, talle wapens, ammunisie gevind
’n Verdagte het vandag in die hof verskyn op Groblersdal na aanleiding van die moord op mnr. Robert Stoltz.
Met skitterende ondersoekwerk is ’n verdagte Sondag by sy werksplek in die Laersdrif omgewing gearresteer.
Die arrestasie volg na die moord op mnr. Robert Stoltz op die plaas Hartelus (tussen Laersdrif en Roossenekal).
Bobo Mokoena het vroeër vandag in die Groblersdal Landdroshof verskyn na aanleiding van die gebeure op 30 April vanjaar waartydens mnr. Stoltz wreed op die plaas Stofkraal vermoor is.
Lees ook: Familie van vermoorde man: ‘Sy lewe sal altyd in ons herinneringe voortleef’
Kort na die moord is ’n R15 000 beloning aangebied deur Bosveld Misdaadondersoeke vir enige inligting wat kan lei tot die arrestasie van die skuldiges.
Lees ook: R15 000 reward for information on Stofkraal farm murder
Oudkol. Sakkie Louwrens (Bosveld Misdaadondersoeke) het pas bevestig dat Mokoena vandag in die hof verskyn het.
Daar is gemeld dat Bosveld Misdaadondersoeke (BMO) die afgelope twee weke onverpoos aan die saak gewerk het. Louwrens het genoem dat die arrestasie uitgevoer is in noue samewerking met die Groblersdal Distrik Opsporingseenheid, Roossenekal polisie, die Transvaalse Landbou Unie Oosstreek voorsitter, die Laersdrif polisie, die Stoffberg Boerevereniging en De Hoop Plaaswag.
Hy noem dat die verdagte positief verbind word met die moordsaak, asook met die vorige huisbraak by mnr. Stoltz.
Op 20 Mei is daar beslag gelê op ’n haelgeweer in ’n stoorkamer. Dit is tydens die inbraak by mnr. Stoltz gesteel, ’n ruk voor die moord.


Nadat die perseel verder deeglik deursoek is, is daar ook beslag gelê op ’n semi-outomatiese BXP-wapen, vier magasyne, ’n 9mm pistool, 9mm rondtes, ’n pompaksie haelgeweer en ammunisie. Verskeie ander tipes ammunisie, soos .22, .44, 7×57, 7×62, .32 en baie ander ammunisie is gekry. Die betrokke wapens en ammunisie is in ’n woonhuis in Laersdrif gevind. Alles is ongelisensieerd.


