Ouers se grootste vrees word waar: verslaafde seun sterf
Hul grootste vrees dat Pieter die volgende verslaafde in Middelburg sou wees om te sterf, het waar geword.
Pieter la Grange (43), sy pa se naamgenoot oudste seun, is verlede Saterdag dood.
Elke keer wat die yskoue hand van vrees om hul harte kom kleef het as ‘n onbekende verslaafde in Middelburg gesterf het, het hulle moeg gemaak. Die oproep het Sondag gekom. Pieter is Saterdag oorlede. Al het hy nie gesterf weens ‘n oordosis nie, het al die jare van heroïengebruik sy liggaam afgetakel. Dwelms saam met tering het hom doodgemaak.
Sy jongste boetie, Dylan, met wie hy ‘n besondere verhouding gehad het, het Vrydag die hartseer taak gehad om sy ouboet te gaan uitken.
René vertel Pieter se verhaal
Pieter se stiefma, René, het namens die familie sy verhaal vertel.
Pieter se ma is dood toe hy ‘n tiener was en is sy pa later met René getroud.
“Ek het Pieter soos ‘n eie kind in my hart aanvaar en lang geprekke met hom deur die jare gehad oor sy verslawing. Ek het in hom geglo toe niemand anders hom wou glo toe hy vasberade was om weer skoon te kom nie.” Sy moes later egter magteloos toekyk toe die dwelmdraak hom weer oorrompel het.
“Ons ly nog aan skok, ons kan nie glo hy is dood nie,” het sy hartseer gesê.
Hoop verydel
Die laaste keer het hy 11 maande by sy pa en stiefma in die huis gebly en het hulle geglo die verslawingshel is verby. Hulle het vir hom ‘n werk gekry, wat verblyf ingesluit het.
Hy sou ‘n Maandag begin werk, maar die Vrydag voor dit, het hy pensioengeld ontvang van een van sy vorige werke. René sê sy en haar man baklei nooit nie, maar hy het haar gewaarsku dat Pieter net weer gaan terugval dwelms toe as hy die geld kry en was sy baie kwaad vir hom. Sy het geglo hy het na al die jare uiteindelik die dwelms gelos. Pieter (senior) was egter reg’ Pieter (junior) het weer vir dwelms geswig!
Sy en Pieter se pa, wat 66 jaar oud is, moes hul huis verhuur en in ‘n klein woonstelletjie intrek. “Pieter (snr) moet nou weer werk soek.”
Nooit verwerp nie
Hulle het egter nooit vir Pieter verwerp nie en hom altyd soos die verlore seun weer terugverwelkom as hy by sy ouerhuis aangekom het.
“As jy hom ontmoet het, was jy binne ‘n halfminuut lief vir hom. Hy het die mooiste innemendste persoonlikheid gehad. Pieter was ‘n vriendelike hardwerkende man. Ek kan niks leliks van hom sê nie. Hy was ‘n dierbare kind.”
Die paar maande voor sy dood, wat hulle baie bekommerd oor hom. Pieter (jnr) het ‘n beroerte gehad en het sy alles probeer om hom in ‘n inrigting te kry om sommer die verslawing ook te los.
Pieter het egter sy spraak teruggekry, asook die gebruik van sy ledemate.
Verloor byna arm
Weens die baie dwelmgebruik (binneaars spuit) het hy byna sy een arm verloor. Dokters wou die arm amputeer. Pieter het egter nee gesê en homself uit die hospitaal ontslaan.
Hoe wag jy vyf ure vir ‘n ambulans?
Dit is vir hulle as gesin geweldig moeilik om te aanvaar dat daar so lank vir ‘n ambulans gewag is. Hulle het ook nog nie antwoorde gekry waar hy presies gesterf het nie, omdat hy behandelinig by die hospitaal geweier het.
Hulle is omgekrap oor die manier wat Pieter oorlede is en wil graag meer inligting inwin.
Die gesin wil graag ‘n paar mense bedank vir die ongelooflike manier wat hulle altyd Pieter se belange op die hart gedra het. “Spesiale dank aan Kobus Terblance, Marcel de Villiers, Jannie Jacobs, Ayesha Snyman, die ander rehabilitasiesentrums en elke ander persoon wat liefde aan hom betoom het.”
Die gesin gaan more (Maandag) begin met begrafnisreëlings en sodra dit gefinaliseer is, sal ons dit publiseer.
- Die Observer het ‘n navraag gestuur aan die Departement van Gesondheid se provinsiale kantoor rakende die gebeure waar daar na bewering vyf ure gewag is vir ‘n ambulans. Sodra ons antwoord kry, sal ons daaroor berig.
