Al was Pieter ‘n verslaafde, het hy steeds harte aangeraak
Nog 'n Middelburgse verslaafde sterf alleen.
Die dwelmdraak het nog ‘n lewe kom steel….die lewe van Pieter la Grange (43) wat talle kere heroïne wou los, maar die heroïenduiwel wou hom nie laat gaan nie.
Vrydag het sy jongste boetie, Dylan, vir Pieter in die lykshuis gaan uitken. Hy is nie dood aan ‘n oordosis nie, maar die langdurige dwelmgebruik het sy organe letterlik opgevreet en het hy uitgeteer weens tering gesterf.
Pieter se laaste paar dae in Middelburg was nie maklik nie. Dit was koud en nat, en het ‘n paar inwoners opgemerk hoe ‘n ander jong vrou, wat ook op straat is, in die aande langs hom gaan lê het om hom warm te hou.
Vrydag is gesien dat Pieter ernstig siek is en is ‘n ambulans geskakel. Daar is egter vyf ure vir die ambulans gewag. “Dit is onaanvaarbaar!” het die mense wat saam gewag het, uitgeroep.
Sondag wou vriende by hom in die Middelburg Hospitaal gaan kuier. ‘n Skok het egter op hulle gewag toe hulle navraag doen oor waar hy is, want hulle kon hom nie in die sale opspoor nie. Daar is vir hulle genoem dat hy al Saterdag omstreeks 14:00 gesterf het.
Nog ‘n skok het gevolg. Die personeel het gemeld dat hy behandeling geweier het. “So hy is dalk iewers in ongevalle dood! Of buite die hospitaal! Niemand weet nie! As jy as dokter of verpleegster weet dat die persoon te siek is om ‘n besluit te neem, dan help jy hom om sy lewe te red, of hy nou wil of nie!”
Al het almal wat hom geken het geweet dat Pieter verslaaf was, onthou hulle net die mooi van hom
Kobus Terblanche onthou staaltjies en Pieter se omgeehart
“Middelburgers het baie van Pieter gehou en het graag vir hom kos gegee, hy was nooit honger nie. Partykeer het hy selfs vir my kom kos aanbied, omdat hy sulke lekker eetgoed gekry het.”
Hy vertel dat Pieter eenkeer saam met hom gery het dorp toe en het hulle oor ditjies en datjies gesels.
Die volgende oomblik het simfoniemusiek oor die radio begin speel. Kobus was oortuig dat Pieter nie sou weet wie die simfonie geskryf het nie. Hy het vir Pieter gesê as hy reg raai, dat hy hom R500 sou gee. “Ek moes opdok, want Pieter het geweet dit was ‘n simfoniekonsert van Mozart!”
Hulle het altyd kopstukke gesels en het Kobus elke dag vir hom kos gegee.
Pieter het verskeie kere oorkant die pad by naby sy huis kom slaap. Met die laaste donderbuie het Kobus 03:00 opgestaan en Pieter ingenooi, maar Pieter was tevrede om beskut van die reën op die stoep te slaap.
Hy onthou die kere wat hulle saam met sy familie gehoop het Pieter is klaar met die dwelms. Toe Pieter se ouers nog op Hendrina gebly het, was hy lank skoon en is daar werk vir hom gereël. “Ek het hom nog by die vulstasie op die N11 gaan aflaai met twee R50-note om duim te gooi. Die volgende dag was hy terug. Hy wou nie uit Middelburg uit nie.”

Kobus het hom beskryf as, “‘n aangename, nice outjie. Hy was selfs ‘n gekwalifiseerde dieselwerktuigkundige! Hy was so talentvol!”
Hy het hom sterk uitgespreek teen die dwelmprobleem in die dorp. “Die polisie vang nie die handelaars nie!”
Marcel de Villiers onthou Pieter se potensiaal
“Pieter het soveel potensiaal gehad, maar kon net nie die dwelmhel afskud nie.”
Marcel het vele kere gedink dat Pieter uiteindelik gaan vry kom van sy verslawing. “Pieter het Jesus in sy lewe ingenooi, maar hy kon net nie staande bly nie. Hy wou regtig vrykom en het gereeld gesê hy is nou reg vir rehab… dié keer gaan hy vasbyt!”
Dit het aan sy hart gevat om Pieter, “jaar in en jaar uit op straat te sien, veral in die winter! Ek het al ‘n paar winters gelede gedink hy gaan nie die somer haal nie! Ek haal my hoed af vir Kobus wat hom oor Pieter ontferm het, anders het hy dit lankal nie gemaak nie,” sê Marcel.
“Ek bid vir sy ouers. Ek kan my gladnie in hul skoene plaas nie. Seën vir hulle.”
Pieter was paar keer by Oorwinnaars Halfweghuis
Pastoor Jannie Jacobs, wat in beheer was van die Oorwinnaars Halfweghuis, wat eers in Middelburg en later op ‘n plot buite die dorp gefunksioneer het vir dwelmverslaafde mans, het bevestig dat Pieter sowat vier keer by hulle was.
“Hy was in 2017 al die eerste keer by Oorwinnaars toe ons nog in Middelburg was.”
Hy onthou hom as ‘n aangename jong man, wat graag gehelp het. “Hy het selfs ‘n paar keer die olie op my voertuig geruil.”
Pieter was ook drie keer by Hope Corner
Ayesha Snyman, wat aan die stuur van sake is by die Hope Corner rehabilitasiesentrum in Middelburg, het bevestig dat hy ook drie keer by hulle was om te probeer skoonkom.
Sy onthou hom as ‘n aangename man, wat die heroïne wou los, maar elke keer teruggeval het.
ë ï
