Video: Elke donker wolk het ’n silwer randjie en soms ’n reënboog
Moeder natuur bederf Middelburgers!
Onweerswolke, windstorms, jakkals trou met wolf se vrou én ’n reënboogbelofte.
Dit alles in net twee dae!
Middelburg het binne twee dae Moeder Natuur in al haar fassette beleef.
@middelburgobserver Moeder Natuur bederf Middelburg. Weather, Middelburg, MiddelburgObserver, MotherNature, MoederNatuur
Dinsdag het ’n wind- en donderstorm die kosyne geruk en ’n verskynsel, soortgelyk aan ’n tornado het deur lande langs die N4 tussen Middelburg en Belfast getrek en is op video vasgevang.
Gister is inwoners sprakeloos gelaat met die mooiste natuurverskynsels wat in ’n kwessie van vyf minute laatmiddag afgespeel het.
Net na 17:00 is stofbesmeerde vensters met ’n paar los druppels vanaf Stoffberg se kant skoongespoel terwyl daar opgery is in Springbokstraat. Donker onweerswolke is duidelik regs van Kanonkop gesien.
Die oomblik toe daar egter afgedraai word in Akasiastraat het dit gelyk soos twee verskillende wêrelde wat ontvou.
Links van Kanonkop het die son tussen die druppels geskyn en as jy regs gekyk het, was dit donderweer wat blits uit die wolke. ’n Reënboog het die donker wolke ingekleur.
Terwyl daar afgery is in Akasia het die reënboog agter die Hervormde Kerk, Noord gemeente se toring uitgeloer en daar is onthou van die Bybelse reënboogbelofte.

In Eikestraat het die helder reënboog gelyk of jy daaraan kon vat en het ’n mens onwillekeurig gevoel of dit vir inwoners ’n spesiale belofte gebring het.
Net voor die son verdwyn, het Kanonkop Spar kliënte vir ’n oomblik gaan stilstaan om die oranje wolkkombers te bewonder.
Dae van uiterstes, maar dae van dankbaarheid om soveel mooi te kon beleef.
