Verstandelik gestremde seun vandag geopereer, twee jaar ná ongeluk
’n Verstandelik gestremde seun wat twee jaar erge pyn ondervind het nadat hy sy enkel gebreek het in ’n ongeluk, is uiteindelik geopereer.
Twee jaar nadat Willem Esterhuizen van sy fiets af gery en sy enkel gebreek is, het hy uiteindelik vanoggend (Maandag) ’n operasie ondergaan.
“Ek kon nie eers daar wees toe hy bykom nie, want ek het nie vervoer nie en het ook nie geld om iemand te betaal om my soontoe te vat nie,” het sy ma, Patricia Smit, vanmiddag hartseer gesê.
Die joernalis was op die toneel en het Willem gekerm van pyn. Hy is ook doof en het omstanders gesukkel om met hom te kommunikeer.

X-strale wat destyds geneem is tydens sy besoek aan die Witbank Hospitaal, het aangedui dat sy enkel gebreek is. Elke keer wat hulle daarna by die hospitaal was, moes hulle omdraai met ’n nuwe datum om terug te kom.
Patricia Smit het haar later uit moedeloosheid tot die Observer gewend en gevra of daar nie iets is wat gedoen kan word nie, omdat Willem in konstante pyn was.
Die joernalis het navraag gedoen by die provinsiale kantoor van die Departement van Gesondheid, wat beloof het dat hulle dit sal ondersoek. Etlike dae later het Patricia die oproep gekry dat Willem verlede Dinsdag by die hospitaal moet wees.
Die operasie is aanvanklik vir verlede Vrydag gereël, maar die spesiale plastiekgewrig en skroewe was nog nie daar nie en dit is uitgestel na vandag. Die operasie is vanoggend 11:00 gedoen.
Patricia het tydens die onderhoud nog nie geweet hoe dit met hom gaan nie, omdat Willem nog nie met haar kontak gemaak het nie.
Sy is dankbaar dat hy uiteindelik die operasie gekry het en dalk binnekort minder pyn sal ondervind.
