Hans Führi, die legendariese sakeman wat altyd ‘n oop hand vir ander gehad het, is gistermiddag by sy huis oorlede.
Sy vrou, Ronalda, sê hulle sou weer Pretoria toe gaan om die dokter te gaan sien rakende sy kankerbehandeling en het sy hom nog gevoer. Sy is gou kombuis toe om die bakkie uit te spoel en sy geliefde voëltjies (hy het ‘n voëlboerdery gehad) kos te gee.

Die oomblik toe sy by hom kom, het sy besef daar is groot fout en het dadelik vir Mario (haar seun) laat kom.
Met Mario se aankoms kon hy nie meer ‘n hartklop voel nie en is Heidi da Silva (van die Hospicevereniging) laat weet. Sy het hulle ondersteun tot die lykswa vir Hans kom haal het.
Ronalda meld dat die dokter etlike maande gelede al vir hulle gesê het dat Hans kanker het. “Die dokter het gesê dat die kanker al omtrent 10 jaar gelede moes begin het.”
Kanker het versprei
Daar is onlangs ‘n BackaBuddy begin om ‘n gewas, wat om sy arm gegroei en dit gebreek het, te verwyder, maar die kanker het te vinnig daarna versprei.
Hulle het verlede Donderdag die hartseer nuus gekry, “dat daar nie meer hoop is vir hom nie.” Dit was vir Hans ‘n harde slag en hy het vir hulle gesê: “Ek is moeg.”
Die naweek het hy met rasse skrede agteruit gegaan. “Hans kon nie meer vaste kos eet nie en het hy maar pap en yoghurt geëet, maar die meeste van die tyd net iets gedrink.”
Hulle het gesukkel om te verstaan wat hy sê en Ronalda het aangeneem dit is die morfien wat hom dalk deurmekaar gemaak het.
Sal spesiale oomblikke onthou
Hans en Ronalda was 27 jaar getroud en sy sal altyd in haar hart koester hoe baie pret hulle saam gehad het, saam hul besighede bedryf het en hoe graag hy ander gehelp het.

Buiten Ronalda, word Hans ook oorleef deur sy seuns, Jaco en Jordan, stiefseuns, Vincent, Mario, Donovan en Rico, 13 kleinkinders, sy 85-jarige moeder, Annetjie en susters Christa en René.

- Die begrafnisreëlings is nog nie gefinaliseer nie. Sodra dit beskikbaar is, sal ons dit publiseer.
- ‘n Huldeblyk sal in die Vrydag uitgawe van die Observer verskyn.
