News

Lyk in brandende kar – vrou pleit skuldig

Moordnag in detail tydens pleitooreenkoms beskryf.

Angelique (Angie) Appelgryn is vroeër vandag in die streekhof tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis, vir haar aandadigheid in die gebeure ná die moord op Danie Maritz.

Appelgryn (28) het in ‘n pleitooreenkoms met die staat skuldig gepleit op die twee klagtes; sameswering tot aanranding en aanranding, asook haar betrokkenheid om van die Maritz se lyk ontslae te raak.

Danie Maritz is die aand van 15 November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg vermoor.

Sy het die hele tyd trane afgevee, terwyl die omstandighede van die moord in die pleitooreenkoms afgelees is.

Moord by skrootmetaalbesigheid

Danie is die nag van 15/16 November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg vermoor. Sy lyk is daarna in ’n bagasiebak gelaai en later naby ’n myn by Clewer aan die brand gesteek.

Alex Grobler is reeds in Oktober 2024 tydens ’n pleitooreenkoms met die staat ook vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir sy aandadigheid om van die lyk ontslae te raak.

Terwyl die moordnag se gebeure punt vir punt afgelees is, is gesê dat Appelgryn ten alle tye geweet het dat dit wat sy gedoen het, onwettig is.

Beskuldigde het Danie geken

Appelgryn het Danie geken en het hom gevra om namens haar dwelms en die metaal, koper te verkoop.

Daar is gesê dat Danie gedreig het om Emile Jacobs (beskuldigde vier) te vertel dat sy hom (Danie) gevra het om dwelms namens haar te verkoop. Hy wou ook polisie toe gaan om te sê dat Jacobs gesteelde goedere verkoop.

Emile Jacobs (beskuldigde vier). Foto: Verskaf.

Hulle wou Danie ‘n les leer

In die ooreenkoms word aangedui dat Appelgryn en Jacobs besluit het ‘om hom ’n les te leer’ en hom te laat aanrand deur Jan Jordaan en Jacobus (Kobus) Pretorius. Jordaan en Pretorius is beide steeds in aanhouding en word aangekla van moord.

Jan Jordaan is volgens die pleitooreenkoms gevra om Danie Maritz: ‘aan te rand’. Foto: Verskaf.

Die ooreenkoms verduidelik verder dat Danie op 15 November na die skrootmetaal besigheid gelok is deur Jacobs met die belofte dat hy hom gaan betaal vir skrootmetaal wat hy verkoop het.

Danie sou aangerand word

Daar is ooreengekom dat Pretorius en Jordaan vir Danie sou aanrand sodat hy sal stilbly oor waarmee Appelgryn en Jacobs besig is.

Die ooreenkoms meld dat Jacobs, nadat hy en Appelgryn by die skrootmetaalbesigheid aangekom het, gery het om te gaan alkohol koop.

Danie was besig om sy skrootmetaal op te sny, toe Jordaan en Pretorius hom begin aanrand.

Daar is vertel hoe Appelgryn by ’n kantoor ingegaan het, omdat sy, “nie die aanranding wou sien nie.”

Toe sy in die kantoor kom, het sy omgedraai en teruggekyk, waar sy gesien hoe Pretorius vooroor gebuk staan en bewegings maak met sy arms.

Aanranding word moord

Jordaan en Pretorius het by die kantoor ingekom en volgens die ooreenkomsverklaring sou Pretorius gesê het dat Danie dood is en dat sy niemand moet vertel nie, want dan gaan hulle, “volgende wees”.

Volgens haar was Pretorius se hande vol bloed en hy en Jordaan het daarna van die perseel verdwyn.

Daar is in die pleitooreenkoms gemeld dat Kobus Pretorius se, ‘hande vol bloed was.’ Foto: Verskaf.

Toesmeer van die misdaad

Sy het Jacobs geskakel en gevra of sy die polisie moet kontak. Hy het gesê sy moenie, want hulle sal dan die gesteelde eiendom op die perseel vind.

Hy het haar aangesê om ‘Alex’ te skakel. Sy hulp is gevra, waarna sy hom gaan oplaai het in eMalahleni en teruggeneem het na die skrootmetaalbesigheid in Middelburg.

Grobler het Danie se liggaam in Appelgryn se bagasiebak gelaai.

In hierdie tyd was daar ook ‘n werker op die perseel (sy naam is in die pleitooreenkoms genoem, maar word weerhou omdat hy nie een van die beskuldigdes is nie).

Die werker, Appelgryn en Grobler het teruggery na eMalahleni, waar Grobler hom en Appelgryn afgelaai het. Grobler het weggery met haar kar.

Beplanning om lyk te verbrand

Volgens Appelgryn se verklaring het Jacobs haar telefonies ingelig dat die liggaam aan die brand gesteek moes word.

Sy kon nie slaap nie en het Grobler gebel. Hy het genoem dat hy nie meer brandstof het nie. Appelgryn en Jacobs het gaan brandstof koop en agter hom aangery tot by ‘n grondpad.

Kar met Danie in bagasiebak aan die brand gesteek

Daarna meld die verklaring dat Grobler die brandstof gevat het, dit in Appelgryn se voertuig (met Danie se oorskot in die bagasiebak) ingegooi en aan die brand gesteek het.

Danie Maritz se oorskot is in die bagasiebak gevind nadat die voertuig uitgebrand het. Foto: Verskaf.

Aldrie het in Jacobs se voertuig die toneel verlaat. Vandaar het Jacobs vir Grobler gaan aflaai en hy en Appelgryn is terug na sy woonstel.

Grobler het voorgestel dat sy die polisie kontak en aandui dat haar kar gesteel is.

Hy het haar meegedeel dat hy ‘n sleepwa het om die voertuig wat uitgebrand het te gaan oplaai.

Jacobs het daarna vir Grobler laat weet dat hy die voertuig moet oplaai en dit vat na die skrootmetaalbesigheid toe, “waar daar van dit ontslae geraak sou word.”

Daar is gemeld dat Grobler hulle egter laat weet het dat die polisie reeds die uitgebrande voertuig gevind het en dat sy nie moet polisiestasie toe gaan nie.
Hy sou die saak gaan open en sê dat die kar gesteel is terwyl dit in sy besit was.

Grobler het haar egter weer geskakel en gesê sy moet na die Vosman polisie toe gaan en sy en Jacobs is daarheen.

Versagtende omstandighede

* Dat sy verantwoordelikheid aanvaar vir haar deel in die misdaad.
* Dat sy berou wys.
* Nie verder die staat se tyd mors nie.
* Haar volle samewerking gee.
* Bereid is om teen die ander beskuldigdes te getuig.
* ‘n Eerste oortreder is.
* Haar siektetoestande is ook uitgelig.

Verswarende omstandighede

* Albei klagtes is van ‘n ernstige aard.
* Dit was haar voorstel om die tragiese gebeure te begin.
* Sy wou die misdaad toesmeer.
* Haar aksies het baie hartseer vir die oorledene se familie veroorsaak en sy het stil gebly, wetende wat met hul geliefde seun gebeur het.
* Daar is ook gemeld dat as dit nie vir die polisie was wat die voertuig gevind het voordat Grobler dit kon verwyder nie, dit dalk nooit aan die lig gekom het wat met die oorledene gebeur het nie.

* Anel Nienaber het aangekla vir die staat en Josef van Eeden het opgetree vir die verdediging

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button