Fietsryer allergies vir morfien, eers more teater toe
Was nie die enigste wat geval het tydens RideJoburg nie.
Die fietsryer wat haarself bewusteloos geval het, tydens Sondag se RideJoburg fietswedren deur die strate van Johannesburg, Maggie Smit (42), gaan eers more teater toe om aandag aan al haar beserings te gee.
Maggie word steeds in die Netcare Garden City Hospitaal in Johannesburg behandel.
Sy het net vyf kilometer na die wegspring, by die FNB Stadion, oor ’n groep fietsryers geval, wat vermoedelik neergeslaan het nadat hulle handvatsels aanmekaar geraak het.
Haar neus is gebreek, haar bolip is beseer, sy het krake aan haar pelvis en sy het ’n besering aan haar kop.
Na die val was sy vir ’n tyd lank bewusteloos en het eers haar bewussyn in ’n ambulans herwin.’
Volgens haar man, Johnny, wat haar by die hospitaal bystaan, was hulle nie bewus dat Maggie allergies is vir morfien nie.
“Sy gaan nou eers more teater toe. Haar medikasie is verander en sy was laasnag beter as in die oggend. Die pyn is nou onder beheer.”
Johnny is Woensdagaand verkies as nuwe voorsitter van Middelburg Fietsryklub.
Hy en sy vrou het albei aan die RideJoburg fietswedren oor 97 kilometer deelgeneem.
“Ons waardeer almal se boodskappe,” het hy vanoggend laat weet.
*Ander fietsryers sê Maggie was nie die enigste wat Sondag geval het nie. Daar was glo verskeie ander voorvalle.
Navrae is aan die organiseerders van die wedren gestuur maar daar is steeds geen terugvoer ontvang nie.
