Gedenkdiens vir geliefde apteker gehou
Die legendariese apteker wat Saterdag oorlede is, se roudiens is Vrydag.
Francois van der Walt (57), die welbekende apteker van Clicks wat Saterdagoggend in die vroeë oggendure in die Life Midmed Hospitaal oorlede is, se roudiens is Vrydag om 10:00 uit die NG Kerk, Suid gemeente in Kogelstraat.
Ds. Theo Homann sal die diens lei.
Francois het Vrydag erge rugpyn gehad en hy is in die hospitaal opgeneem waar hy die volgende oggend gesterf het.
Sy seun, Gerhard, het vandag bevestig dat sy pa se dood te wyte is aan ‘n hartaanval en bloedklont in die long.
Sy pa se dood was vir hom ‘n harde slag. Hy onthou nog hoe opgewonde sy pa was met sy kleinseun, Dian (nou sewe maande) se geboorte.

Gerhard het genoem dat hy Vrydag omstreeks 12:30 met sy pa gesels het en alhoewel hy moeg geklink het van die pynmedikasie, was hy, soos gewoonlik, baie positief.
Jan Botha, wat saam met hom jare gelede ‘n vennoot was by die Moms Apteek, het Francois beskryf as ‘n lojale vriend en man vir sy gesin.
Almal wat Francois geken het onthou hom as ‘n deernisvolle man.
- Francois se kollegas by Clicks het Woensdagmiddag almal byeen gekom om spesiale hulde aan hom te bring.
- ‘n Huldeblyk sal in die Vrydag uitgawe van die Middelburg Observer verskyn.
