KYK: Brescia lê haar siel bloot na verslawing en red nou ander
Daar is Woensdagaand nie doekies omgedraai oor dwelms en die vernietigende gevolge van misbruik nie.
Rou vrae is Woensdagaand deur gebroke ouers aan Brescia Bianco-Badenhorst gevra, waar sy by Corpus Christi gaan gesels het oor dwelmverslawing en wat daartoe aanleiding gegee het in haar lewe.
Brescia wou op die kassie wees, sy wou in die Sewende Laan-sirkels beweeg. Haar drama studies sou nie hou nie, en nog minder haar besittings.
Sy’t álles prysgegee vir dwelms. Nou preek sy op verhoë vir kinders en ouers oor die gevare van verslawing, en haar lang doringbesaaide pad na herstel. Nie net in vlees nie maar in diepe geloof.

Sy is verlos, min ander maak dit. Sy’s een van net 2% verslaafdes wat die kleed van skaamte kon afskud. Maar eers moes sy besef dat die kleed ook met verskeie etikette gekom het; soos druggie, trash, krimineel, manipuleerder …
Vandag dra sy net een etiket, bloot ’n kommapunt wat sê haar verhaal gaan aan.
@middelburgobserver Local prayer leaders lay hand on Breschia Bianco-Badenhorst and her partner Renier ahead of her drug chat to Middelburg parents. Brescia nowadays testifies about her drug addiction and incredible losses she suffered, not only to drugs, but by multiple suicides in her family, which ultimately contributed towards the vicious downward spiral leading her to heroin. @bresciabiancobadenhorst #thingswedonttalkabout
En sy deel hom soos Woensdagaand toe ouers ná haar praatjie rou vrae gehad het oor tienerselfmoord en depressie wat hulle in hul eie huise ervaar.
Daar was geen oordeel van die meer as 200 gaste wat vir vir Brescia se gratis praatjie opgedaag het nie, net begrip. Sien, die dwelmprobleem raak meer huise as wat dié huise self wil erken. Dis tyd om te praat oor dinge waaroor daar nie gepraat word nie, is Brescia se boodskap.
En dit begin by die ouerhuis. Dit begin ook by ouers wat weet waarvan hulle praat.
As jy self nie weet watse middele daar buite is nie, en wat hulle veronderstel is om aan die gebruiker te doen nie, verstaan jy nog nie dwelms nie.
En al medisyne daarvoor is om wakker te word en vrae te vra en op te lees. Dit help natuurlik om mense soos Brescia Bianco-Badenhorst op haar platforms te volg. Sy antwoord graag en gee raad en hulp waar sy kan.
Sy weet waarvan sy praat en sy bly op hoogte van die nuutste middels en giere soos hulle van oorsee af spoel Middelburg toe.

Brescia is deur die Chain Breakers na Middelburg gebring waar ander kerke en organisasies ook met Elna Lewis en haar span by die Chain Breakers hande gevat het om die welkom-mat vir Brescia en haar man Renier uit te gooi.
Beraders van die NG Suid Kerk en Serving Disciples was ook op hande saam die Chain Breakers Woensdagaand, waar inwoners met krisisse in hul huise dadelik hulp kon kry.
Verslawing gaan gereeld gepaard met sielkundige en psigiatriese ondertone en daarvoor is daar ook hulp.
Die aand was goed bygewoon hoewel Brescia nou al weet dat haar gehore soms net ’n handvol luisteraars trek.
Hoekom? Want dis dinge waaroor ons nie praat nie.
En Woensdag het Brescia die gesprek op eie bodem begin.
• Die Chain Breakers kom elke Maandagaand by die Corpus Christi Kerk in Aerorand bymekaar van 18:30 tot 19:30.
Die sessies is nie net oop vir verlsaafdes nie, maar ook vir ouers want daar is iemand om mee te praat oor dinge wat niemand oor praat nie.
Elna kan ook geskakel word by 082 556 4467.
