Inwoners sê donker strate te blameer vir moorde in park en ander misdaad
Dis nag in Middelburg!
‘n Jaar gelede was daar twee moorde in Groenkol en inwoners van die area mor dat dit steeds stikdonker is in die strate.
“‘n Vrou en haar dogter is vroegaand Woensdag, net voor 18:00 voor my huis op die hoek van Suid- en Meyerstraat aangeval. Alhoewel dit nog lig was, was daar net twee aande vantevore iemand in my erf. Ek kla al maande omdat die straatligte nie werk nie, maar daar word net niks gedoen nie,” kla mnr. Henk le Roux.
Hy glo die booswigte het al laatmiddag daar begin rondsluip en toe die vrou en haar dogter teen skemer verbystap vir oefening, het die vier booswigte hul kans waargeneem.
Rdl. San-Mari Wait sê sy het al hordes kere die probleem met straatligte aangemeld, maar dit bly stikdonker in hierdie area.
Die Dagpatrollie was nog besig om hulp te verleen op die toneel waar die vrou aangeval is, toe hulle ‘n noodroep kry van ‘n vrou wat reg voor haar huis in Dennesig aangeval is. Ook voor haar erf is dit stikdonker omdat die straatligte nie werk nie.
Rdl. Elsie Vermooten het bladsye en bladsye met adresse van strate in Clubville en Gholfsig wat stikdonker is met die Observer gedeel. Inwoners het selfs aan haar ‘n petisie oorhandig waarin hulle kla dat dit stikdonker is in hul strate. Sy het die klagtes reeds aan die munisipaliteit oorgegee. “Ek verdwaal in my eie wyk as ek in die aand daar moet ry, want dit is pikdonker.”

@middelburgobserver Residents of Totius Street, Gholfsig (in Middelburg) handed a memorandum to Cllr Elsie Vermooten after their streetlights have been off for months. Streetlight outages are a town-wide issue. The municipality says areas hit by power outages are prioritised. Middelburg, ServiceDelivery, MiddelburgObserver
Rdl. Helda de Klerk sê sy en rdl. Johann Dyason het dieselfde probleem met donker strate in Kanonkop en Dennesig. “Ons bly dit aanmeld.”
Lerato Kgomo, mediawoordvoerder van die munisipaliteit het in antwoord op die klagtes gesê dat die munisipaliteit ‘n ernstige problem het tans met vandalisme, waar booswigte kabels steel. Dit is een van die vele redes waarom straatligte nie werk nie.
Sy meld dat dit ook dieselfde span is wat regdeur die dorp moet inspring as inwoners se krag af is. “Hulle moet prioritariseer. Inwoners se krag wat af is, word eerste aandag aan geskenk en veral nou met die reënseisoen is daar baie kragonderbrekings.”
Op die Steve Tshwete Facebookblad word daar weekliks aangedui in watter areas hulle werk aan straatligte en ander elektriese probleme. “Mense moet ook onthou dat ons nie net in Middelburg werk nie.”
Die begroting maak ook nie voorsiening daarvoor dat al die uitbreidings se straatligte gelyk reggemaak kan word nie, is as ‘n verdere rede gegee waarom dit so donker is in vele uitbreidings.
