News

Geregtigheid vir die man onder die silwer kombers…

En, die man met die glas in sy hand tronk toe...

Dit was sewe jaar gelede, 27 April 2018.

Dit was ’n vakansiedag.

Ons het by die Middelburg Buiteklub ’n koeldrank gaan drink.

Op pad terug, het daar polisievoertuie by ’n huis in Kerkstraat gestaan.

Het gaan ondersoek instel.

’n Groot bejaarde man het by die hek gewag.

Phillip de Klerk (60) is Donderdag 10 jaar gevangenisstraf opgelê waarvan twee jaar opgeskort is vir vyf jaar. Hy het Gerhard Coetzer op 27 Ap4ril 2018 doodgeskiet terwyl hy met ’n wapen gespeel het. Foto: Verskaf.

Het vir hom gevra wat gebeur het: “Rowers het oor die muur gespring en ’n man geskiet” het hy gelieg.

Het ingestap en vinnig ’n foto geneem, ’n foto van ’n man onder ’n silwer kombers.

Hy het teen ’n muur gelê… onder ’n bordjie.

Op die bordjie was iets geskryf soos “Here bewaar my huis”.

Het nog gedink, “Ja Here, bewaar my huis en nou lê daar ’n man dood”.

Sakkie en Miempie Meyer het vir jare in die huis gewoon.

Polisiemanne het soos aasvoëls op my toegesak, om te keer dat daar foto’s geneem word.

Plaas dat hulle eerder hulle werk gedoen het, almal getoets het vir residue op hulle hande.

Maar hulle was meer bekommerd oor ’n jong vrou, wat verward heen en weer op die erf rondgestuur is. Die man onder die silwer kombers se vrou…

Daar was huilende klein kindertjies.

Op pad terug kar toe, het die bejaarde man gevra “is hy dood?” Het bevestigend geantwoord.

Hy het begin struikel, probeer om sy balans te herwin, weer gestruikel en soos ’n dooie os op die sypaadjie neergeslaan.

Het die ambulansmanne, wat steeds binne die erf was, gaan roep.

Gerhard Coetzer.

Is weer terug die erf in, saam met my vrou Mariana.

By die polisie sperlint het ’n man met glas in sy hand gestaan, hy het na die man onder die silwer kombers gestaar.

Het vir hom gevra “is jy ok?”. Hy het kortaf geantwoord “ja, f…man” en ’n omstander beveel: “Gaan gooi vir my nog ’n dop in”.

Mariana het geantwoord “daar staan die skieter” en na die man met die glas in sy hand gewys.

Het haar verstom aangekyk; “Hoe weet jy dit?”

Het daar weggery en kon nie die beeld van die man onder die silwer kombers uit my kop kry nie.

Neil Somers se liedjie “Silwer Kombers”  het begin om my breingolwe oor en oor te teister:

Niemand luister

As ons fluister

Begin te skree

Tot kranse antwoord gee

Die aarde bewe

En vloede woes

Die grond is bitter

En die hemel soet

 

Maak my snoesig toe

In my silwer kombers

Want my tyd is uit

Soos die vlam van ‘n kers

My lied is gesing

Tot die laaste vers

So maak my snoesig toe

In my silwer kombers…  

So maak my snoesig toe

In my silwer kombers

Blaas trompette

Die wolke daal

My Hemelse Vader

Het my kom haal…

Neil Somers se liedjie weerklink steeds, wanneer ek aan die man onder die silwer kombers dink.

En nou, na al die jare, is daar geregtigheid vir die man onder die silwer kombers.

Phillip Rudolph de Klerk (60) is tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis, nadat hy op 27 April 2018 vir Gerhard Coetzer (29) doodgeskiet het, terwyl hy ’n wapen rondgeswaai het by ’n partytjie.

De Klerk, die man met die glas in sy hand…

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button