Opvolg: Bejaarde het bewussyn verloor en deur muur gery
Die man wat agter die stuur was van die Landrover vroeër vandag, het sy bewussyn verloor voor die voertuig die muur getref het.

Familie van die bejaarde man wat vanoggend met ’n Landrover deur die muur gery het by die Middelburg Hospitaal, sê hulle is dankbaar dat dit in die parkeerarea gebeur het en nie op die oop pad nie.
“Hy het my uit die voertuig uit gebel en gesê hy het die kar omgekeer,” het die 74-jarige man se dogter (wat verkies dat almal anoniem gehou word) pas vertel.
“My pa het nog gister van Vrede af gery en het niks makeer nie. Hy het net gou Middelburg Hospitaal toe gery om sy Maandag afspraak by die dokter van Maandag na Woensdag te skuif toe die ongeluk gebeur het.” Sy noem dat hy gedink het hy stop, maar die voertuig het aangehou ry, die muur getref en omgeslaan.
Hy is per ambulans na die Middelburg Hospitaal geneem, waar hy aanvanklik nie gekla het van enige pyn nie. Sy lip was net stukkend. Hy het egter in die ongevalle weer sy bewussyn verloor. Daar word steeds toetse gedoen.
- Die familie wil graag die dokters en personeel van die hospitaal behandel vir die besondere wyse wat hulle hom behandel het en steeds behandel.
