KYK: Verslaafde ruk, spring en skree in besige straat weens dwelmkonkoksie
Verslaafdes sterf op straat en nou omarm ’n jong man bome en hardloop voor karre in.
‘n Dwelmverslaafde man het gisteraand vir meer as ‘n uur heen en weer gespring, bome omarm en voor karre ingehardloop in Lilian Ngoyistraat in Kanonkop.
Daar word vermoed dat hy een of ander dwelmkonkoksie saam met drank ingeneem het.
Was dit nie vir die hulp van noodgroepe nie, sou hy sekerlik onder voertuie se wiele beland het.
‘n Inwoner van Lilian Ngoyistraat het omstreeks 17:00 die Dagpatrollielede gekontak nadat die verslaafde teen sy heining op en af gespring en sy honde op hol gejaag het.

Hardloop voor karre in, skree en hou bome vas
Die Dagpatrollieledelede het hom naby die Lions parkie gekry waar hy van die kant af voor karre probeer inhardloop het. Hulle het hom probeer kalmeer, maar hy het kort-kort ten hemele geskree en op en af gespring.
Met ‘n joernalis van die Observer se aankoms, was daar reeds talle omstanders wat gekyk het hoe die man onaardse geluide maak.
Hy het na ‘n boom gehardloop, dit vasgehou en dan weer teruggehardloop na waar mense hom probeer kalmeer het, maar dan het hy hulle net weer gevloek en skreeuend op sy rug gaan lê.

Barmhartige samaritaan en GPF help
Mandie Coetzee het ook op die toneel gestop en haar ontferm oor die man deur by hom te gaan sit toe hy weer rukkend op die grond gaan lê het. Sy het hom vasgehou en gepaai tot die gemeenskapspolisiëringsforum voorsitter, Juanitha Groenewald, op die toneel opgedaag het.
Sy en ‘n van diens af paramedikus het hom kalmeer.
Nadat hy deeglik ondersoek is, het die jong inwoner begin braak.
“Hy het een of ander kristalmetamfetamien mengsel en alkohol saam gebruik sonder om te eet. Dit is wat hom so laat hallusineer het,” sê Juanitha. Nadat hy iets geëet het, het hy kalmer geword en is sy ma van die toneel af ontbied.”

Konkoksies saam met dwelms gemeng
Elna Lewis, van die Chainbreakers-groep, het laat gisteraand laat weet dat hulle al hoe meer gevalle sien van verslaafdes wat konkoksies saam met kristalmetamfetamien (straatnaam Crystal Meth) gebruik en dan erg hallusineer. “Dit word gebrou met allerhande goedkoop chemikalieë en veroorsaak dan die hallusinasies.”
Sy sê dat van die ernstiger gevalle oorgaan in psigose. “Daar is mense wat nie weer uit die psigose kom nie! Hulle hoor stemme en glo mense agtervolg hulle!”
Middelburg het ‘n dwelmmekka geword met verslaafdes en dwelmhandelaars wat deesdae op bykans elke straathoek gesien word.
Hulp vir verslaafdes
• Die Oorwinnaars Halfweghuis, waar past. Jannie Jacobs verslaafde mans vir jare gehelp het, het al meer as ‘n jaar gelede gesluit.
• Gerugte dat die Hope Corner sentrum, wat bedryf word deur Ayesha Snyman, ook toegemaak het, is onwaar, sê sy. “Ons is nie toe nie, ons gaan van Januarie af weer mense invat.” Ayesha het laat verlede week gesê dat hulle nog drie verslaafdes in verskillende stadiums van rehabilitasie by hulle het.
• Die Chainbreakers, met Elna aan die stuur, kom Maandagaande tussen 18:00 en 19:30 by Corpus Christi Kerk byeen. Hulle hanteer enige verslawings (drank, dwelms, pornografie en ander). Sy kan geskakel word by 082 556 4467.
• Die Serving Disciples-groep bedien verslaafdes Dinsdagaande vanaf 18:00 met kos en Woord by die Presence Kerk in Meyerstraat. Johan Cornelius (voorsitter) 082 441 8379 of Annemarie (082 896 2103) is beskikbaar vir navrae.
• Die Middelburg Observer het ’n paar maande gelede gewaarsku dat al meer jong dwelmverslaafdes op straat gaan sterf. Daar was al twee sulke gevalle.
@middelburgobserver NEWS: Young man in obvious distress after ingesting drug concoction, shocks Kanonkop residents. #BreakingNews #Mpumalanga Middelburg Drugs Addictionawareness MiddelburgObserver #WarOnDrugs SA SouthAfrica
