Stiaan Reynierse ken dwelms.
Hy ken drank…
…en hy ken rock&roll.
Musiek is sy lewe.
Maar dwelms en drank het daardie lewe byna uit hom gewurg.
Daarom het die rukkende, rollende jong man, wat in ’n psigotiese dwelmbenewelde toestand, op ’n sypaadjie gelê het, hom aan die hart geruk.
So aan die hart geruk, dat hy dadelik gevoel het om ’n verskil te maak.
“Dit was asof die Here met my gepraat het,” sê hy.
Hy het ’n drang gevoel wat hy nie kan beskryf nie.
Om ’n rehabilitasiesentrum op Middelburg te open.
“Ek het die kennis om dit te doen.”
Kennis wat hy in die donker dwelmwêreld opgedoen het, wat hom self jare gelede in ’n rehabilitasiesentrum laat beland het.
“Jy moet eers in ’n verslaafde se spore loop, voordat jy sal verstaan.”
En Stiaan weet waarvan hy praat.
Hy vertel entoesiasties dat dwelmverslaafdes deur ’n proses sal moet gaan, soos onder andere mediese toetse, voordat hulle behandeling kan ontvang.
“Die Here het dit heavy op my hart gesit dat ek ’n verskil moet maak, vandat ek daai video gesien het.
“Ek is selfs bereid om terug te trek na Middelburg. “
Hy sê daar sal altyd dwelmhandelaars wees, maar mens moet sorg dat verslaafdes se harte so verander, dat hulle nie teruggaan na daardie handelaars toe nie.
“Hulle moet ook nie teruggaan na hulle ou vriende toe nie.”
Tans is ’n rehabilitasiesentrum net ’n droom.
Of miskien nie ’n droom nie, “’n boodskap uit die hemele, geïnspireer deur ’n rukkende verslaafde op ’n sypaadjie”.
Stiaan reik deesdae musiek uit onder die naam Chistian John.
Op 10 Desember vier hy ’n jaar sonder drank.
Op 12 Desember reik hy ’n nuwe song uit
Van Stiaan na Christian John.
Die nugter Chistian John se nuwe rock&roll liedjie gaan hard met mense praat.
Dit is soos hy is.
Nie iemand wat doekies omdraai nie.
Wat sê verslaafdes kan nie “met die Bybel gebliksem word wanneer hulle vir hulp opdaag nie”.
“Dit is die minste wat hulle wil hoor”.
(Voordat die Facebook sleutelbord ridders hom veroordeel – eintlik bedoel hy net daar moet ’n proses wees om verslaafdes te help).
Wat vertel dat hy self al in so psigotiese toestand voor ’n kuierplek in Middelburg op ’n sypaadjie gelê het.
“Jy dink jy onthou nie, maar jy onthou, jy weet alles.”
