Middelburg-mamma se toestand uiters kritiek, hart het vir 8 minute opgehou klop
Die mamma van vyf kinders wat al ’n jaar veg teen ’n ongediagnoseerde siekte, se toestand is uiters kritiek.
Angelique van Kraayenburg (40), die geliefde Middelburg-mamma wat al langer as ’n jaar teen ’n ongediagnoseerde mediese toestand stry, se toestand het die afgelope week drasties versleg.
Angelique is steeds in die intensiewesorgeenheid by Steve Biko Akademiese Hospitaal, waar sy gekoppel is aan ’n ventilator. Al is sy van sedasie af, het sy nog nie wakker geword nie, en dokters wag nou op enige teken van reaksie binne die volgende 24 uur.

Twee dae gelede het Angelique se hart vir agt minute opgehou klop en is noodbehandeling toegepas om haar hart weer aan die gang te kry. Die voorval het haar reeds afgetakelde liggaam verder verswak.
Volgens Claudia Atkins, wat die familie ondersteun en die fondsinsameling koördineer, bly Angelique se infeksievlakke gevaarlik hoog. Haar bloedplaatjies het onlangs tot ’n lewensgevaarlike telling van drie gedaal – waar die normale vlak na aan 150 moet wees. Mediese personeel het daarin geslaag om dit tydelik tot 53 te verhoog, maar die risiko’s bly ernstig, en dokters beskryf haar toestand as uiters kritiek.
Haar verloofde, Pieter, ry steeds met elke moontlike geleentheid van Middelburg na Pretoria om aan haar sy te wees. Haar ouma besoek haar daagliks en probeer die gesin emosioneel staande hou te midde van skok, uitputting en hoop. Die laaste paar dae was uiters swaar vir almal naby Angelique, maar die gesin hou vas aan elke vlammetjie van hoop terwyl hulle wag op enige teken dat sy haar bewussyn herwin.

Gemeenskap gevra om BackaBuddy te ondersteun:
Met mediese uitgawes, vervoer en ander kostes wat by die dag ophoop, vra die familie vir gebede en enige donasies wat hulle deur hierdie nagmerrie kan help.
Kliek op die BackaBuddy-skakel om jou deel by te dra: https://www.backabuddy.co.za/campaign/help-angelique-get-better

