News

Straatrower gryp man aan sy keel deur oop bakkievenster

'n Motoris moes voet in die hoek sit toe 'n straatrower hom aan die keel beetgekry het deur sy oop venster.

Met ‘n rower se hande geklem om sy keel en een wat aan die passasierskant probeer inkom, moes ‘n man vinnig optree en wegjaag.

“Ek is net dankbaar ek het nie ‘n ongeluk veroorsaak nie, maar ek is seker hulle was agter my bakkie aan,” vertel Danie Duursema van die gebeure omstreeks 15:45 op die hoek van Cowen Ntuli- en John Magagulastraat in die Middedorp.

Hy het heel voor by die rooi verkeerslig gestaan in John Magagulastraat om na regs te draai, toe hy opmerk dat ‘n wit VW Polo baie naby agter hom stop.

Danie het nog gewonder waarom die VW Polo amper teen sy Toyota bakkie stop, toe ‘n arm deur die venster kom en hom aan die keel beetkry. “My venster was oop, want dit is baie warm!”

In die daaropvolgende sekondes het hy opgemerk dat daar ook iemand staan aan die passasierskant van sy bakkie, maar sy bakkie se deure was gelukkig gesluit.

Hy moes dadelik ‘n besluit neem en het nie eers gekyk of die flikkerlig al aangedui het dat hy kan ry nie. “Ek het net begin ry en nog gehoor hoe iemand toeter blaas!”

Danie het instinktief in sy spieëltjie gekyk en gesien dat die VW Polo ook op ‘n hoë spoed deur die verkeerslig agter hom aangery kom. Hy het aangehou ry in Cowen Ntulistraat met die VW Polo kort agter hom en besef die voertuig agtervolg hom.

‘n Paar blokke verder het hy voertuie herken van mense wat hy ken en het dadelik ingery by die besigheid waar hulle gestaan het. Die VW Polo het verbygery en Danie het vinnig die voertuig agterna gekyk om ‘n registrasienommer te kry. “Die Polo het geen nommerplaat agter gehad nie!”

Buiten ‘n bietjie ongemak waar die straatrower hom aan die keel beetgekry het, het Danie gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie. Hy kon nie sy aanvallers beskryf nie, want dit het baie vinnig gebeur.

Sy vrou, Mikhayla, het reeds op noodgroepe ander motoriste gewaarsku om versigtig te wees by dié verkeerslig.

Die Observer het deur die jare talle kere in die koerant en op ons webtuiste geskryf oor straatrowers wat deure oopruk en alles van waarde gryp of mense uit hul voertuie probeer ruk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button