NewsSport

Elke pedaalslag sê liefde is sterker as alles

Gesigte bedek met stof en gevlek met trane gaan die mooiste storie skryf

Die Munga is meer as ’n fietswedren, dit is ‘n reis. ’n Wedloop, nie teen mekaar nie, maar teen die stem wat fluister om op te hou, teen die moegheid, teen die twyfel. Dit gaan nooit oor wie eerste klaar maak nie. Dit gaan oor die verhale van vasbyt, die gesprekke met vreemdelinge in die doodstil nag, die gedeelde stilte, die gesigte bedek met stof en gevlek met trane, trane vir kinders in ’n kinderhuis, verlore geliefdes, trane van dankbaarheid. Elke pedaalslag sê: “Ons hou aan beweeg, want liefde is sterker as alles.”
Thiesa Janse van Rensburg se hartroerende beskrywing van die Munga bergfietswedren is uit haar hart.

Sy weet waarvan sy praat.

Verlede jaar moes sy na 1100 kilometer handdoek ingooi.
Sy vertel self:
“Ons het van Bloemfontein tot by Van der Kloofdam (ongeveer 200km) ’n baie sterk wind, met baie stof, van voor gehad. Ek het stof en chemiese partikels in my longe gekry (hulle vermoed boere het gifstof gespuit op die lande langs die roete, wat die situasie vererger het). Ek het vanaf die eerste wedren dorpie af erg begin hoes en sukkel om asem te haal. Die paramedici het by elke waterpunt en dorpie my genebuliseer en suurstof gegee. By die laasste dorpie was my suurstofvlakke so laag dat die paramedici geweier het dat ek die laasste 80km ry. Ek het gepleit maar hulle het net geweier. Dit was vir my ongelooflik hartseer en moeilik veral omdat ek reeds 1100km gery het en meer as 12 ure oor gehad het om die laaste 80km te voltooi.”

Die wegspring is Woensdag

Thiesa en haar man Johan vertrek vanoggend na Bloemfontein om die volle 1200km van die Munga aan te durf.
Die res van die Care Riders wat aan die equippe deelneem, het ook na die Vrystaat gereis.

Wat is hulle gunsteling wedrenne?

Thiesa (51) het in Polokwane grootgeword en haar skoolloopbaan aan Hoërskool Pietersburg voltooi, terwyl Johan (63) ’n oud HTS Middelburg leerling is.
Die fietsrygogga het haar reeds 20 jaar gelede beetgepak. Johan is ’n veteraan wat al 25 jaar lank fietsry.
Sy beskryf die Cape Epic as haar moeilikste wedren terwyl Johan sê die Munga is ’n monster.
Maar wat is hulle gunsteling wedrenne?
“Dit is moeilik om net een te noem, elke wedren is spesiaal in sy eie dinamika. Vir meer as 10 jaar het ons padfiets (Tandem) gery. Jock, Panorama Toer, Kremetart, Argus, 94.7 het almal hulle eie iets spesiaal. Bergfiets is die Hell en Back, Sani2C, Transbaviaans, en natuurlik die Cape Epic is almal besonders.”

Gewone sterflinge sal natuurlik vra, waarom doen julle dit?

“Die kern van die Munga, is nie vir eer of trofeë nie, maar vir iets groter. Ons is deel van die Care Riders en gebruik die Munga om deur ons talente vir die kinders van die Care Village geld in te samel. Net soos Jannie du Plessis wat ’n kind aan die dood afgestaan het, het ons ook ’n seun en ouers afgestaan aan die dood.”
Thiesa voeg filosofies by: “Ordinary cyclists peddaling for an extra ordinary cause.”
Sy sê elke draai van die wiel is ’n belydenis dat lig, hoe klein ook al, altyd deurbreek.
“Die waarheid is: ons eie krag is beperk, ons moed soms net ’n masker. Maar God se genade bly, soos ’n sleutel wat deure oopsluit, soos ’n lig wat die donker nie kan stilmaak nie.

Elke sonsopkoms word ’n herinnering

Kinderhuis kinders het ’n toekoms en kinders wat gesterf het leef voort – nie net in herinneringe nie, maar in liefde, in hoop, en in die hande van God self. Die trane wat jy laat val raak nooit verlore nie. Jou reis in die Munga, in die stilte van die Karoo en Tankwa, is soos in ’n droom wat jou gelyktydig verpletter en dra, waar kinderhuis kinders hoop vind en jy weer jou kind terugvind – nie hier nie, maar iewers waar die reis ophou, en waar stilte uiteindelik nie pyn nie, maar vrede word.van krag. Dit gaan oor kameraadskap, oor vriendskappe gesmee in die vuur van inspanning en emosie. Dit gaan oor dié wat langs ons ry in gees – en om hulle trots te maak.”

Die Munga wurg die krag uit jou

Om by die Munga uit te kom het die egpaar die laaste vyf maande tussen 800km en 1000km per maand afgelê.
Asof die stof, sinkplaat paaie en wind nie genoeg is nie, wurg die Munga die krag uit jou.
Maar wat loop die ergste deur, jou sitvlak, jou rug of jou jou arms?
“Verseker jou sitvlak en nek. Ek het “Shermer’s Neck” gekry as gevolg van die intense hoes. Saam met die posisie waarin jou nek is van lang ure se ry, word jou nekspiere swak. Dit is baie seer en ongemaklik. Ek moes fisies my kop regop hou deur ‘n “bungy cord” aan my buff vas te maak agter my kop en dan om my lyf styf trek, sodat die koord my kop op hou.”

Wat is die moeilikste van die Munga?

“Die stille geveg teen die natuur se elemente (wind, intense hitte), pyn en stryd om wakker te bly (moegheid). Baie mense hallusineer op die Munga.”
Watter uitdaging wag volgende?
“Cape Epic 2026 saam met my goeie vriendin Sanet Griesel.”
Boodskap aan Middelburg se deelnemers.
“Aan my die dapperes, die met waagmoed, die effens malles, die Care Riders wat gaan deelneem aan die wedren wat jou werklik laat beleef wat deursettingsvermoë beteken.

“Die Munga 2025 is nie meer ’n verre droom nie. Dit is werklik. Dit is hier.

“Vir sommige sal dit die eerste keer wees dat hulle die Tankwa in die gesig staar.
“Vir ander is dit ’n bekende roep, ’n terugkeer na die stilte, die sterre en die lyding wat op een of ander manier soos huis voel.
“Deur 1148km van Karoo-stof en alles wat die menslike gees beproef, maak ons saam ’n verskil in die Care Village kinders se lewens.
“Saam deel ons die las, pyn en oorwinning.
“Hoe moeilik of onmoontlik dit ookal met tye voel, onthou: pyn en moegheid is alles tydelik. Die mooi storie en die impak in die kinders se harte en omstandighede is permanent. Gebruik jou reis gedurende die Munga om die mooiste storie deur stof en trane in God se Skepping te skryf.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button