Puma-amateurspan maak maalvleis van Griffons
Span en sy bestuur verdien om deur Mpumalanga Rugbyunie vereer te word
Nadat die Puma se o. 21-span teen die Griffons verloor het, was daar darem een span wat die naweek ’n oorwinning oor die Griffons behaal het.
Die Puma-amateurspan het ’n suksesvolle seisoen afgesluit deur die Perstruie met 68-12 in eMalahleni af te ransel.

Die Pumas se o. 21-span het andermaal skandes gemaak na nog ’n 59-21-nederlaag teen die besoekers uit Welkom.
Die Middelburgse senter, Divan Geyser, het twee drieë in die span se oorwinning gedruk.
Geyser is hierdie seisoen ’n behoorlike drieëvraat wat ook vier keer gedruk het, toe die Nkangala-streekspan met Gert Sibande afgereken het. Hy is toe ook aangewys as speler van die wedstryd.

Die Pumas het verlede week met 28-27 teen die sterk span van die Cheetahs gewen.
Die vorige week het hulle die Limpopo Blou Bulle met 40-5 in ’n wegwedstryd geklop.

Nadat hulle die provinsie so trots gemaak het, kry die span en sy bestuur hopelik behoorlike erkenning by die Mpumalanga Rugbyunie, al is dit om hulle na ’n Puma senior span-wedstryd uit te nooi om vereer te word.
