Moord en roof speurders smee na jare weer bande
Die seuntjie wat verdwyn het en die handgranaat onder die polisiekar
Moord en roof speurders! Jy wil sê ‘oud’-speurders, maar daar kan nooit voor hulle name ‘oud’ geskryf word nie.
In murg en been sal hulle altyd speurders wees.
Nie sommer net polisiemanne nie, moord en roof speurders.
Hulle het die naweek ’n reünie by Weesgerus naby Modimolle gehou.
Wanneer jy na die foto kyk is dit nie gesigte nie, dit is herinneringe, dit is plekke, tonele.
Hulle het gewerk in ’n tyd van respek en dissipline.
Dit was ’n tyd van wedersydse vertroue.
Manne wat hard kon werk en hard kon speel.
Briljante speurders.
Hulle het jou vertrou.
Soms selfs toegelaat dat jy deur ’n dossier blaai.
Hulle wat vandag plaasaanvalle as net nog ’n misdaad afmaak, het nog nie ’n dossier gesien van so aanval nie.
Dries Bezuidenhout
Op die groepfoto sit Dries Bezuidenhout heel links voor. Ons het in 1980 saam in Damanhof woonstelle op Witbank (eMalahleni) gebly.
Hy het ’n geel Datsun gery, ek ’n bloue.
Rudi Neethling
Daar is Rudi Neethling. Wanneer jy die naam Rudi Neethling hoor, dink jy aan die seuntjie wat op Roossenekal verdwyn het.
Dit was 28 September 1996. Careltjie Matthysen (9) se klere en sy kaak is later gekry.
Niemand weet tot vandag hoe hy tussen die Roossenekal bosse gesterf het nie.
Werner Otto
Wanneer jy Werner Otto se gesig op die foto sien, flits die misdaadtoneel op die Belfastpad voor jou op, die polisiekar wat oor ’n handgranaat gejaag het en die bebloede rower in die veld.
So het elke moord en roof speurder ’n storie.
Stories!
Danie Hall, Piet Bredenkamp, Lourie Kritzinger…
Mis Van Dyk Kruger op die foto.
’n Ode aan die beste speurders
Eintlik wil jy nie oor die reünie skryf nie. Jy wil ’n ode skryf aan die beste speurders wat hierdie land opgelewer het. Maar geen berig kan die eer wat hulle toekom regverdig nie. Jy wil sê: “Ons salueer julle”. Maar selfs dit voel nie goed genoeg nie.
Jy wil dankie sê dat jy deel kon wees van ’n uitgelese groep polisiemanne.
Ek salueer julle…
