Die kerk en die kroeg langs mekaar was nie aanvaarbaar
Dorp se interessante hotelgeskiedenis vertel van die Grand na die Radison.
Op 25 Oktober 1859 neem die Volksraad van die Republiek van Lydenburg eenparig ‘n besluit aan “om een dorpsplaats te benoemen en aan te leggen … by de eerste spruit van Olifantsrivier”. Die area was ten tye nog deel van die kortstondige Republiek van Lydenburg wat van 1856 tot 1860 bestaan het. Die Volksraad neem ook die besluit dat die naam van die nuwe distrik Middelburg sal wees – ongeveer halfpad tussen Pretoria en Lydenburg (Mashishing), met die doel om ’n halfwegpunt op die roete te skep. Daar kom egter niks van die dorpstigting nie en die uitgewese twee plase was ook nie algemeen aanvaarbaar vir die burgers as ’n dorp nie. Die Republiek van Lydenburg smelt in 1860 saam met die Republiek van Potchefstroom en die Nuwe Republiek van Utrecht om die Zuid-Afrikaanse Republiek te word.
Op 28 Januarie 1864 gaan die kerk voort om ’n kerk nader aan die inwoners te vestig en koop die Nederduits Gereformeerde Kerk van Lydenburg die plaas Sterkfontein om ’n Kerkdorp met die naam Nazareth aan te lê. Die plaas was aangrensend aan die plase wat oorspronklik in 1859 geïdentifiseer is vir Middelburg. Die Kerkdorp word deur die Volksraad erken, maar op 27 Junie 1873 word die Volksraad, nou die Volksraad van die Zuid-Afrikaanse Republiek, versoek om die dorpsnaam terug te verander na Middelburg. Daar is nou ’n dorp, ongeveer halfpad tussen Pretoria en Lydenburg en op die hoofroete na Delagoabaai (Maputo) en die nuwe goudvelde in die ooste.
Met die hoofroetes wat deur Middelburg loop, word dit gou ’n stopplek vir die koetse wat die passasiersvervoer van die tyd was op die hoofroete van Pretoria na Barberton en van Natal na Pietersburg (Polokwane), geleë is. Weens die strategiese posisie van die dorp kan aanvaar word dat akkommodasie gou nodig was vir reisigers wat per koets op weg was na Lydenburg en die goudvelde van die Oos-Transvaal. Waar boere wat na die dorp gekom het vir veral Nagmaal gekampeer het in tente en in waens, sou die poskoets-reisigers seker gou begin vra het vir slaapplek in die klein dorpie. In 1872 word die poskoets reëlings bekendgemaak. Die poskoets vanaf Pretoria het om 12:00 in Middelburg aangekom op die dag van vertrek. Die poskoets uit Lydenburg sou Donderdae om 11:00 in Middelburg aankom. Waar detail aangeteken is oor die aantal hotelle in Barberton en Pelgrimsrus tydens die goud-stormloop, is daar ongelukkig baie min inligting aangeteken oor die eerste hotel in Middelburg.
Die eerste verwysing na ’n hotel wat opgespoor kan word, is op ’n kaart gedateer 1874 wat die Middelburg Hotel aandui op erf 66 aan die westekant van Kerkstraat (Walter Sisulustraat) tussen Bovenstraat (Cowen Ntulistraat/Jan van Riebeeckstraat) en Langstraat (SADCstraat). In 1894 en 1895 word aangedui dat die Middelburg Hotel behoort aan CW Ellis, maar teen 1899 is J Campbell die eienaar. Geen inlgting oor hierdie hotel kon opgespoor word nie, maar daar kan aanvaar word dat dit oor akkommodasie, eetsaal en ’n kroeg beskik het. Dobbel is nie toegelaat nie, en die Landdros het in 1873 ’n skrywe van die staatsekretaris ontvang dat mense met ’n roulette tafel op pad is na Pelgrimsrus met slotopmerking “daar mag geen speelhel wees nie”.
Die hotelle in die periode het ook stal fasiliteite vir besoekers se perde gebied en die diere is deur die hotel versorg! Aflos-spanne perde vir die poskoetse is ook dikwels by die hotelle op die roete gestal. Die hotel is in 1903 deur ’n brand beskadig of afgebrand. Die Transvaal Hotel word aangedui op erf 220 in Markstraat (OR Tambostraat) teenoor Rooth/van Blerk Plein. Teen 1899 behoort die Transvaal Hotel aan Schiffman en Co. Daar bestaan nie ’n spesifieke foto van die hotel nie, maar as die ligging op die kaart vergelyk word met bestaande foto’s van die straat, was dit waarskynlik die gebou in Markstraat met die stoep voor. Die hotel moes gesloop gewees het want op die Epstein poskaarte van circa 1905 is ’n dubbel verdieping gebou sigbaar op die posisie. Daar word gespekuleer dat die Transvaal Hotel gesloop is toe die Imperial Hotel reg-oor die straat gebou is.
Na die voltooiing van die Oosterspoor en Middelburg Stasie in 1894 ontstaan die behoefte aan hotel verblyf naby die stasie. Middelburg stasie was ten tye een kilometer buite die dorp geleë en ’n hotel naby die stasie sou geriefliker wees vir reisigers. Hendrik Boshoff bou die Masonic Hotel direk noord van die stasiegebou op erf 520. Die erf is by die aansluiting van Weeberstraat met Meyerstraat net buite die hekke van die stasieterrein. Hendrik Johannes Boshoff was ’n sakeman in Middelburg en lid van die Eerste Volksraad vir Middelburg voor die Anglo-Boereoorlog.
Die gebou is waarskynlik ontwerp deur R J Krookel, ’n argitek en na 1894 opgerig. Die eerste verwysing na die Masonic Hotel is in 1899 se Staats-Almanak wat stel dat dit aan H Boshoff behoort het. Dit was ’n sierlike dubbel verdieping gebou met gekapte klip fondamente, met ’n suidelike en westelike fasade. ’n Grondvloer stoep met besondere sierwerk bo die pilare en ’n bo-vloer balkon met hout pilare en relings. Die hoë staandak is opvallend. Die hout facia met ’n groot gewelspits kroon die hoof ingang.
Die hotel word op 22 Desember 1900 gekommandeer deur die Britse Militêre owerhede om spoorweg personeel van die Imperial Railways tydens die Anglo-Boereoorlog te akkommodeer. Omdat die hotel buite die dorp, by die stasie-terrein geleë was, is daar gevrees dat die Boeremagte dit mag aanval. Die grondvloer stoepe en bo-vloer balkon is dus versterk met sandsakke ten einde skiet posisies vir soldate te skep. Tussen die sandsakke is skietgate gelaat.
Jack Hindon beskryf ’n nagtelike besoek te perd van hom en ’n aantal makkers aan Hendrik Boshoff se woning, waarskynlik net langs die hotel, tydens die besetting van Middelburg. Die boere krygers het wel in die dorp ingekom, nie teen staande ’n soeklig en wagposte, wat die fortifikasie van die hotel op die buitewyke van die dorp verklaar.
Op ’n onbekende datum na die Anglo-Boereoorlog is die hotel gerestoureer en hernoem na die Grand Hotel. Op die Epstein poskaarte van circa 1906 is die naamsverandering sigbaar op die dak. Die gebou is heeltemal gesloop op ’n onbekende datum.
Tydens die Britse besetting van Middelburg 1901-1909 en die basering van ’n massiewe Imperiale Garnisoen in Middelburg, is daar ’n ekonomiese oplewing van die dorp. In 1903 word begin met die oprig van ’n nuwe hotel op die hoek van Markstraat (OR Tambostraat) en Eksteenstraat deur mnre. Mathis en Carponsin. Die hotel word gebou deur mnr. R Rockel van Pretoria. Dit word beskryf as “a magnificent and commodious hotel”.
Die hotel is van gekapte klip gebou met die “streaky bacon” – konstruksionele polikronie ontwerp van ligte sandsteen inleg-lae. Die grondvloer was direk op straatfront met ’n stoep aan die ooste en noordekant. Die hoofingang was geleë in die Markstraat-front met ’n kroeg-ingang op die hoek. Die besonder sierlike balkon het die totale straatfront gedek met hout balkon-relings met ’n besondere geometriese ontwerp. Die dak ontwerp het egter die gebou uniek gemaak, met ’n siertoring op die hoek, gekroon met ’n reling en vlagpaal. Drie dakvenstersgewels (dormer windows with gables) het die dak afgerond. Enkele kleiner siergewels is ook sigbaar.

Die hotel het ’n groot eetsaal gehad met vensters wat uitgekyk het op Markstraat. ’n Hout siertrap het van die hoofingang na die bo-vloer gelei, terwyl die kombuis aan die agterkant van die hotel was met ’n binnehof waar perde gestal kon word. Die kamers op die bo-vloer was voorsien van glasdeure wat op die balkon uitgeloop het. Die hotel adverteer vanaf 29 Januarie 1904 in die Herald – die voorloper van die Middelburg Observer, – dat dit in bedryf is.
Die hotel word die sentrum van Middelburg se sosiale lewe en verskeie dans-balle en bankette word in die hotel aangebied. Uitnodigingskaartjies bestaan vir etes in die hotel en die Stadsraad bied verskeie bankette in die hotel aan.
Die grondvloer aan die suidekant huisves teen 1966 kantore van die prokureursfirmas Ernest Marks en Burger en Buurman, asook ’n barbierswinkel van mnr. Piet van Schalkwyk. In die vyftiger-jare word ’n anneks aan die westekant van die hotel in Eksteenstraat aangebou met verdere kamers om die hotel se kapasiteit te verhoog. Op 26 Desember 1966 word die hele hotel, ten tye bedryf deur mnr. en mev. Teddy Levin, in ’n brand verwoes. Laataand stort die besondere daksiertoring ineen en teen middernag is die brand onder beheer. Die hotel is totaal verwoes.
Middelburg, as ’n halfweg-stop het gou ’n aktiewe gasvryheid bedryf ontwikkel.Die hotelle in die dorp was meestal kort-termyn akkommodasie vir reisigers, besoekers en die bekende “travelers” – reisiger-agente wat groot maatskappye verteenwoordig het en besighede en staatsinstellings besoek het om bestellings te neem. Daarteenoor was die berugte hotelle van Barberton en Pelgrimsrus permanente verblyf vir fortuinsoekers. Die Imperial Hotel het teen die einde van 1903 ‘n “middernag lisensie” bekom dat die kroeg kon oopbly tot middernag! In die konserwatiewe gemeenskap het dit groot debat ontlok, en een van die redes wat vermeld word waarom die Witkerk nie die ou Dorpsaal op Rooth/Van Blerk Plein wou koop as kerksaal nie, was dat dit aangrensend tot die Imperial Hotel met sy kroeg was! Die Radison Hotel in Middelburg is nou die nuutste in hierdie reeks van historiese hotelle in Middelburg.




















