Waar daar so lekker gedans is, is ook begrafnis gehou
Die plek waar jy kon asemhaal en net jouself wees
“Lank lewe die herinneringe van Krugerdam… jy was goed vir ons!”
Met hierdie afsluitingswoorde in ’n brief vat Johanna Dysel die nostalgie vas van Krugerdam.
Die oord waar inwoners naweke bymekaar gekom het vir piekniek, swem, dans en braai.
Na ’n berig gister oor die dam het die nostalgie emmersvol oorgeloop.
Die onthou
Selfs raadslid Elsie Vermooten het vertel hoeveel pret hulle gesin by die dam beleef het.
“Ons het daar geleer ski, water gesluk, geploeg onder die water. Ek kon op ’n buiteband ry. Ons het vis gevang en heerlik piekniek gehou. Gesonbrand totdat ek pikswart was. Gedans dat die meel spat.”
Sal Botha onthou die skietbaan was naby Krugedam en HTS Middelburg leerlinge het in 1963, toe hy in matriek was, om die dam gedraf vir atletiek oefeninge.
Ons het deurnag gedans
Maar dit was veral Johanna wat haar hart uitgestort het.
“Ek het Krugerdam leer ken in 2001. Die kuierplek was toe bekend as Buffalo Inn met Manuel Reis die eienaar. Dit was een van die lekkerste langarm dansplekke op die dorp,” vertel sy.
“Kinders wat vandag al self kinders het, het onder die tafels geslaap. Oujaarsdanse was die saal volgepak. Ons het voor die tyd al die poeltafels uit die kroeg gehaal om plek te maak vir nog stoele en tafels. Steeds het mense buite die deure gestaan om plek te kry. Ons het deurnag gedans, tot sewe uur die oggend. Dan is dit vinnig huis toe om onsself skoon te kry en dan begin die boeresport om tien uur nuwejaarsoggend.”

Nuwejaarsdans tot middernag
Daar is potjiekos onder die bome gemaak, bierdrink kompetisies, en daar is sommer op die stoep geskoffel wanneer ’n mooi liedjie gespeel is. Wanneer die son sak dan is dit weer nuwejaarsdans tot middernag.
“Die nuwejaarsdans was die enigste keer wat mense aangetrek het soos hulle wil, sommer kortbroek en plakkies na die boeresport. Ander aande is jy nie toegelaat om so in die saal in te kom nie. “Manuel se kliënte was sy lewe. Ons het in daardie einste saal etes voorsien wanneer ’n kliënt se familielid te sterwe gekom het. Die kantdeure is dan oopgemaak sodat die familie nie deur die kroeg hoef te loop nie.”

’n Groot ramp
Sy sê die besluit om die grond te verkoop was ’n groot ramp. Die laaste oujaarsdans is in 2006 gehou, waarop die geboue in Januarie ontruim is.
“Soveel mense wat in karavane en rondawels gewoon het, was genoodsaak om ander blyplek te soek. Baie van hulle was ons kliënte wat ten duurste ander verblyf moes kry.”
Sy sluit af: “Krugerdam en die danssaal was die plek waar jy kon asem skep, afpak, huil, lag en stories vertel.”
En nou is dit al wat ooorgebly het… die stories…
Lees ook:
Krugerdam se verhaal bring herinneringe van pa se verdrinking
