News

Vrou bars in trane uit toe sy hoor oudpolisieman bly in aanhouding tot volgende verskyning

Die oudpolisieman wat van seksdade beskuldig word, bly in aanhouding tot Januarie vir borgaansoek.

’n Vrou het vanoggend in trane uitgebars in die hof toe sy hoor dat die oudpolisieman wat van seksdade beskuldig word, nog ’n maand in aanhouding sal wees vir die voortsetting van die borgaansoek.

Die ondersoekbeampte het vanoggend borg teengestaan in die saak teen die oudpolisieman wat twee weke gelede in die Kaap gearresteer is en die saak is weer uitgestel na middel Januarie vir voortsetting van die borgaansoek.

Daar word 37 klagtes teen die oudpolisieman ondersoek en daar is vanoggend in die hof genoem dat daar in totaal 13 klaers is in die saak.

Adv. Derik Rowles het die redes wat die ondersoekbeampte (van die Gesinsgeweld en Seksuele Misdrywe-eenheid) aangevoer het waarom die oudpolisieman nie borg moet kry nie, in die hof voorgelees en lui dit as volg:

• Daar is 37 klagtes teen die beskuldigde, wat wissel van verkragting tot poging tot verkragting en seksuele aanranding.

• Die beskuldigde was ’n voormalige kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens en is afbetaal, sy arbitrasie was suksesvol, maar die saak is nog in die arbeidshof.

• Dat al die beweerde misdade gebeur het in die tyd toe hy ’n polisieman was.

• Dat die beskuldigde sy mag misbruik het as polisieman om die klaers uit te lok om saam met hom te gaan en dat sommige ’n middel ingegee is, óf in ’n drankie of ’n pil, wat veroorsaak het dat hulle hul bewussyn verloor het, waarna hulle na bewering óf verkrag of onsedelik aangerand is.

• Die beweerde voorvalle het gebeur in Middelburg, Secunda en Nelspruit.

• Die beweerde misdade het gebeur tussen 1992 en 2019.

• Daar is genoem dat vier van die dossiere oopgemaak is kort na beweerde voorvalle in 1994, 1998, 2007 en 2011, in verskillende dorpe deur verskillende ondersoekbeamptes, en nie as deel van ’n ondersoek vir ’n reeksverkragter nie.

• Die betrokke sake is later teruggetrek.

• Twee van die sake is nie op die hofrol geplaas deur die Departement van Openbare Vervolging nie, weens onbekende redes.

• Twee van die sake het die Departement van Openbare Vervolging geweier om verder te vervolg.

• Twee van die sake het die ondersoekbeamptes vir die aanklaers gesê dat hulle nie die klaers kon opspoor nie. “Dit was nie waar nie, want die klaers het gesê dat daar vir hulle gesê is dat die dossiere weg is.”

• Die forensiese ondersoeke, wat deel gevorm het van die sake wat voorlopig teruggetrek is, was na bewering nooit verder gevoer deur die ondersoekbeamptes nie.

• Daar is verder gesê dat in twee van die sake ander lede van die polisiediens die beskuldigde beskerm het deur die klaers af te raai om sake te open.

• In een van die sake is die klaer na bewering deur ’n senior offisier geroep en gevra of sy seker is of sy wil aangaan met die saak teen die beskuldigde, wat haar laat besluit het om nie aan te gaan met die saak nie.

• Die betrokke klaer het na bewering ook ’n anonieme oproep gekry wat haar ingelig het om nie aan te gaan met die saak nie, aangesien die beskuldigde weet waar sy bly en waar haar kind is.

• In ’n ander saak het die klaer ’n beëdigde verklaring afgelê, maar dit blyk dat die dossier nooit geregistreer is nie.

• Daar is gemeld dat hierdie sake ’n aanduiding is van die invloed wat hy het by die polisie en hoe sy kollegas hom beskerm het.

• Na die beskuldigde in die Kaap gearresteer is, is gesê dat die ondersoekbeampte ’n oproep gekry van ’n kolonel van Milnerton wat gevra het of hy die beskuldigde kan vrylaat. Ook dat die beskuldigde klaarblyklik vir die kolonel gesê het dat hy na Middelburg toe sal kom op sy eie. Die ondersoekbeampte het geweier en gesê dat die beskuldigde gearresteer is op Skedule 6-klagtes.

• Die ondersoekbeampte se verklaring sê ook dat die kolonel aangedui het dat die beskuldigde met hom (die ondersoekbeampte) oor die foon wil praat, waarop die ondersoekbeampte geweier het. “Dit is weereens ’n aanduiding van die invloed wat die beskuldigde op lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het.”

• Daar is genoem dat met die inligting wat verkry is in die dossiere, dit duidelik is dat die kollegas van die beskuldigde bewus was wat gebeur het, maar gekies het om dit nie aan te meld nie.

• Melding is gemaak van ’n voorval in 2019 waar die verloofde van die beskuldigde oorlede is. Die detail hiervan is voorgelees, maar kan nie nou bekend gemaak word nie, omdat dit die beskuldigde sal identifiseer.

• Daar is melding gemaak van nuusmedia wat berig het oor die beskuldigde. Hierdie detail kan ook nie bekend gemaak word nie, omdat dit die beskuldigde direk sal identifiseer.

• Daar is pertinent melding gemaak dat talle daarna ook na vore gekom het en sake gemaak het, wat deel gevorm het van die huidige ondersoek,

• Die nuwe dossiere is ondersoek deur die Onafhanklike Polisie Ondersoek Direktoraat (Opod), waarna die dossiere weer oorgeplaas is na die polisie toe.

• Dit het ook onder die aandag gekom van die ondersoekbeampte dat die beskuldigde van adres verander het tydens Opod se ondersoek en nooit hul ondersoekers daarvan in kennis gestel het nie. “Dit het gelei tot die vertraging om die beskuldigde op te spoor nadat lasbriewe vir arrestasie bekom is.”

• Daar is uitgelig dat seksuele misdrywe ’n ernstige pandemie in Suid-Afrika geword het, wat die regering genoop het om verskeie programme saam te stel om slagoffers by te staan. Een van dié programme is geïnisieer deur President Cyril Ramaphosa self om die ernstige probleem ten opsigte van geslagsgeweld aan te spreek. “Op 27 November 2025 het president Ramaphosa aangekondig dat die regering geslagsgewend en misdade teen vroue en kinders as ’n nasionale ramp verklaar.”

• Daar is afgesluit deur te sê dat die gemeenskap moeg is vir die geweldige vlak van seksuele misdade in Suid-Afrika. “Mense neem meer en meer die gereg in eie hande omdat hulle hul vertroue in die regstelsel verloor het.”

• Josef van Eeden tree op as regsverteenwoordiger vir die beskuldigde in die borgaansoek.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button