News

Bek-en-klouseer hou boere om Middelburg op hoë gereedheid

Bek-en-klouseer plaas boere in Middelburg se Rondebosch-area onder druk, met streng biosekuriteit, waaksaamheid en samewerking wat tot dusver help om verliese te beperk.

Boere in veral die Rondebosch-area is op volle paraatheid ná bevestigde bek-en-klouseer gevalle onder beeste in die omgewing. Terwyl sommige plase reeds met infeksies worstel, slaag ander daarin om hul kuddes gesond te hou deur vroeë optrede en streng beheermaatreëls.

Die VF+ het verlede week ’n indringende beroep op die Departement van Landbou gedoen vir dringende toepassing van bestaande regulasies en vinniger toegang tot entstowwe en toetsuitslae.

Bek-en-klouseer is ’n hoogs aansteeklike virussiekte wat tans vinnig versprei. Dit is ’n staatsbeheerde siekte wat ernstige gevolge inhou vir die beweging en verhandeling van vee.

bek-en-klouseer, landbou, boere, middelburg, mpumalanga, kudde, inent, inenting, staat veearts, beeste, agri, virus, bek en klou
Pieter Joubert stap saam met sy vee. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Geïsoleerde kudde beskerm boer teen infeksie

Pieter Joubert, ’n boer in die Rondebosch-area, sê sy beeste is nog nie ingeënt teen bek-en-klouseer nie, maar daar is tot dusver geen positiewe gevalle op sy plaas bevestig nie. “Ons het geen verliese nie en monitor die situasie daagliks,” sê Pieter.

Volgens hom is sy redding die ligging van sy kudde. “Hulle is baie geïsoleerd en daar is geen aangrensende vee wat naby my beeste wei nie,” verduidelik hy. Pieter voeg by dat die plaaslike vee-inspekteur hom steeds bystaan met advies en monitering, wat help om risiko’s verder te beperk.

bek-en-klouseer, landbou, boere, middelburg, mpumalanga, kudde, inent, inenting, staat veearts, beeste, agri, virus, bek en klou
Die kudde op Pieter Joubert se plaas is almal nog skoon van bek-en-klouseer. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Bevestigde gevalle en inentings in Middelburg omgewing

Nie alle boere was egter so gelukkig nie. Piet Erasmus, ook ’n boer in die Rondebosch-area, het bevestig dat daar bek-en-klouseer gevalle op sy plaas is. Hy sê dat die aanhoudende nat weer die situasie besonder uitdagend maak. “Navorsing wys dat die virus onder nat toestande tussen 60 en 100 kilometer kan versprei,” waarsku Piet.

Meer as 1 000 beeste is reeds op sy plaas ingeënt, en ten spyte van die uitbraak is daar tot dusver geen veeverliese nie.Die eerste tekens was sere in die beeste se bekke en enkele diere wat mank en verswak geloop het. “Nou kan ons net waaksaam bly en dinge hanteer soos dit kom,” sê hy.

Die Erichsens het intussen bevestig dat hul kuddes in die Keerom- en Rietspruit-areas onlangs skoon getoets is.

bek-en-klouseer, landbou, boere,
Niels Erichsen by hulle kudde wat skoon getoets het. Foto: Verskaf.

Veilingverbod en vorige uitbraak

Die plaaslike situasie speel af teen die breër agtergrond van die Departement van Landbou se verbod op alle veilings in Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en die Noord-Wes in 2019. Die laaste groot uitbraak in die streek was in 2019, toe bek-en-klouseer op ’n plaas naby Modimolle ontdek is en soortgelyke beperkings ingestel is.

Volgens die Rooivleis Bedryfsdienste is daar praktiese maatreëls wat boere kan volg om die verspreiding van die virus te beperk:
• Moenie diere verskuif uit areas waar die virus voorkom nie.
• Ontsmet klere, toerusting en voertuie ná besoeke aan ander plase.
• Kontak ’n veearts onmiddellik indien diere kliniese tekens toon.
Kliniese tekens sluit in oormatige kwyl, rou sere in die bek (veral op die tong en verhemelte), sere op hoewe, mank loop en algemene siektetoestande as gevolg van hoë koors.

bek-en-klouseer, landbou, boere, middelburg, mpumalanga, kudde, inent, inenting, staat veearts, beeste, agri, virus, bek en klou
Die veewagter saam met die beeste op Piet Joubert se plaas. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

Politieke reaksie op die bek-en-klouseer krisis

Vir boere in en om Middelburg bly die fokus op waaksaamheid, biosekuriteit en samewerking.
“Bek-en-klouseer is nie iets wat jy ignoreer nie – jy veg dit dag vir dag,” sê Erasmus.

• Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en hoofwoordvoerder in Mpumalanga, het intussen in ’n mediaverklaring gesê bek-en-klouseer is buite beheer weens swak wetstoepassing deur die Departement van Landbou. Volgens hom dra stadige toetsuitslae, onvoldoende entstowwe en ’n gebrek aan beheer oor die vervoer van vee by tot verdere verspreiding van die siekte en plaas dit veeboere onder ernstige finansiële druk.

bek-en-klouseer, landbou, boere, middelburg, mpumalanga, kudde, inent, inenting, staat veearts, beeste, agri, virus, bek en klou
Pieter Joubert stap saam sy beeste in die veld. Foto: Carmia Jansen van Vuuren.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Carmia Jansen van Vuuren

Carmia is an up-and-coming junior journalist at the Middelburg Observer. She has a burning passion for creative writing and poetry. She is a qualified language educator but fiercely enjoys the challenges that writing and reporting offer. Her focus spreads over different fields, including human interest, hard news, investigative reporting, and sports.
Back to top button