Ma se hart stukkend na vandale kindergraf verwoes
Vandale ontsien nie eers meer kindergrafte nie en is engeltjies van 'n graffie afgeruk.
Ellen Steyn het huilend uitgeroep: “Kyk wat het hulle met my kind se graf gedoen!”
Ellen wou gisteroggend blomme op haar seun, Pieter, se graf gaan plaas, toe sy op die skade afkom.
“Hulle het altwee die engeltjies afgebreek. Die een se kop is afgebreek en daar neergegooi en die ander een is weg!” het sy ontsteld gesê.
Die vyftienjarige Pieter is in 2000 aan breinkanker oorlede. Sy ma onthou hoe die Reach for a Dream-groep voor sy dood nog gereël het dat haar seun sy rugbyheld, Bobby Skinstad ontmoet.
Ellen onthou dat haar spesiale seun in die SPO-klas by Laerskool Middelburg was.
Sy spierwit grafsteen naby die ingang van die begraafplaas het al baie mense vir ‘n oomblik laat stilstaan. Op die grafsteen staan daar: Pieter Johannes (jnr), 12-07-1985 – 03-09-2000. “Hoe dankbaar is ons vir ‘n engel kleintjie soos jy, ‘n geskenk van God. Jou stemmetjie is stil. Die verlange is oneindig groot. Ons weet jy sit aan Jesus se voete tot ons verseker weer ontmoet. Pappa, Mamma, Sussie en Ouma.”

Voor teen die grafsteen vasgemessel was twee wit engeltjies, wat vandale hulle nou die reg toegeëin het om te breek.

“Dit voel of hulle sy graf teiken. Hulle het ook al die plantjies wat ek daar geplant het, uitgeruk en gesteel.”
• Die Observer het al talle kere berig oor vandale en diewe wat by die begraafplaas toegeslaan het. Die nissies is al oopgebreek en geliefdes se as uitgegooi. Aangeplante blomme op grafte en ruikers word ook voor die voet gesteel.
• In Oktober het me. Regina Dercksen hartseer vertel dat ‘n sementbankie by haar broer en sy seun (hulle is bo-op mekaar begrawe) se graf gesteel is.
“Dit is ‘n laaste eer wat jy aan iemand betoon en dan kom vat hulle dit net!” het sy kwaad gesê. In 2018 is die pragtige grafsteen van ‘n perd op sy agterpote op hul graf, deur grafskenders beskadig. Die perd se kop is afgebreek.
Sy het detyds gesê dat Middelburg, “een van die mooiste en veiligste begraafplase in die land het. Ek kan nie verstaan hoekom hulle dit gedoen het nie. Ons is seer en kwaad.”
• Haar broer, Gert Smit, en sy seun, Gert (jnr) is in 2008 binne drie maande van mekaar af daar begrawe.
Gert jnr is op 8 Augustus 2007 oorlede en op 1 November 2007 het Gert snr in ‘n motorongeluk gesterf.
Sy ma, Bets Claassen, het saam met die ander kinders in Oktober 2008, op Gert snr se verjaardag, die grafsteen ingehuldig.
• Bets is in April 2016 oorlede.
• Antonette Erasmus, Gert se dogter, was net so hartseer toe sy die graf besoek en sien dat die bankies by haar pa en broer se graf gesteel is.

