Voëls vlieg verskrik rond, honde draf in strate rond
In een nag word die mensdom mal en klap die skote oorverdowend in Middelburg.
As dit nie nie so tragies was nie, kon dit skreeusnaaks gewees het.
Jaar na jaar woed die klapper debat. Desember breek aan. Owerhede waarsku dat die skiet van klappers onwettig is. Die polisie reik verklarings uit dat dit onwettig is om klappers sonder ’n lisensie te verkoop. WhatsApp-groepe gee telefoonnommers waar die skiet van klappers aangemeld kan word.
Daar is wenke om troeteldiere kalm en veilig te hou. Dierebeskermingsverenigings is op gereedheidsgrondslag. Nommers word gepubliseer waar die skiet van klappers aangemeld kan word.

Dan breek 31 Desember aan. En is daar nie progressie in die siklus nie?
Die klappers word groter, die vuurpyle meer gesofistikeerd, die geraas erger. Daar is eers net een of twee bomme. Die water word getoets. Hier by nege uur die aand klap dit hier en daar.
Dan breek twaalf uur aan. Alle hel bars los.
Dit klink soos ’n Russiese aanval op Okraïne. Honde bewe verskrik. Voëls vlieg verskrik uit bome. Strate word in oorlogsones omskep. Niemand word ontsien nie. Inwoners bel die nommers wat gepubliseer is, geen reaksie nie.
Dit is ’n kakofoniese malligheid. Dit hou aan en aan…
Niemand word ontsien nie. Bomklappers laat bure wip van die skrik. Stelselmatig bedaar die geskiet.
O, donder! Hier en daar klap die skote.
Vloekwoorde word op veiligheidsgroepe geuiter. “Bedaar, bedaar, jou taalgebruik!”
Die volgende dag lê die strate vol bewysstukke van ’n nag waar die mensdom hom in sy belaglikste oordadigheid uitgedruk het. Klagtes stroom in. Honde draf verlore in strate rond. Optrede word geëis.
’n Dag later word alles vergeet.
Tot 31 Desember 2026…
KYK: Die mensdom word gek en laat die aarde dreun met bomklappers en vuurpyle.
@middelburgobserver KYK: Voëls vlieg verskrik rond, honde draf in strate rond In een nag word die mensdom mal en klap die skote oorverdowend in Middelburg. Lees meer: #MiddelburgObserver #stevetshwetelocalmunicipality #Mpumalanga #Middelburg #newyearseve
