Hael so groot as hoendereiers op Pienaardam geval
Pienaardam loop ook deur onder storm wat verwoesting saai.
Dit was eers een: “Doef!”
Toe nog ’n: “Doef!”
En toe raak dit: “Doef! Doef! Doefffff!”
Het gewonder wie gooi klippe op my buurman se sinkafdak.
Die son het geskyn. Dit kon mos nie hael wees nie? En toe val stukke ys op die grasperk. Nie ronde hael soos ons dit ken nie, stukke ys. Die hemele was ons gelukkig genadig, want die storm het net so vinnig verdwyn, as wat hy gekom het.
Dit was ook die geval met die onheilspellende donker wolke in die suide en ooste van die dorp. Een oomblik is daar gevrees dat nog hael en wind op pad is en toe skyn die son. Middelburg beleef ’n uitermatige onvoorspelbare somer. Die vorige oggend was dit winterkoud met ligte reën. Binne ’n uur was dit ’n sonskyn somersdag.

’n Tornado wat sowat 15 kilometer uit op die Stoffbergpad gewoed het, het groot skade aangerig op die plaas van Abrie en Brenda van Wyk. Strukture is omgewaai en die krag van die wind het ’n staalpaal gebuig. Inwoners het foto’s op WhatsApp-groepe gedeel wat hael wys so groot as ’n hoendereier.

By Pienaardam is mielies weggeslaan. Mnr. Gerriets Gerrits, eienaar van Pienaardam, sê die mielies was nou in ’n kritieke stadium van bestuiwing. Daar was gister oggend vroeg begin om by die oord op te ruim, waar skade aan veral skadunette aangerig is. Ongelooflik is net 15mm reën by die oord gemeet. Pienaardam se dienste gaan soos normaalweg voort.
Paaie het in riviere verander, ’n kind het verdrink en ’n tornado het verwoesting gesaai, toe die hemele grom.
@middelburgobserver KYK: Hael so groot as hoendereiers val op die dorp Pienaardam loop ook deur onder storm wat verwoesting saai. Lees meer: #MiddelburgObserver #Mpumalanga #Middelburg #stevetshwetelocalmunicipality
