Pote veilig gevind, danksy Middelburg-gemeenskap
Die vermiste hond, Pote is veilig gevind ná ’n intense soektog in Middelburg. Die Alberts-gesin bedank die gemeenskap, Lost Animals Middelburg en almal wat gehelp het om hom huis toe te bring.
Die Alberts-gesin se harte is weer heel nadat Pote, hul geliefde reun, veilig gevind is ná ’n angsvolle tydperk van onsekerheid in Middelburg.
Die gesin wil graag hul opregte dank uitspreek aan Lost Animals/Verlore Diere Middelburg en elke inwoner wat gehelp soek, deel en uitkyk het. ’n Spesiale dank gaan aan Marina Blenkinsop vir haar omgee en ondersteuning, en veral aan Lucy Lubbe, wat Pote uiteindelik gevind en veilig gehelp het.
Vir die Alberts-gesin is Pote nie “net ’n hond” nie. Hy was ’n trougeskenk op, 29 September 2018, toe hy slegs drie maande oud was.
Vandag, méér as sewe jaar later, is, die hondekind, vir die egpaar soos ‘n eerste kind.

“Vanoggend is ons harte weer heel. As dit nie vir Lucy en hierdie gemeenskap was nie, sou Pote dalk nie vandag weer veilig in sy bed gewees het nie,” het die gesin gesê.
Hierdie verhaal is nóg ’n bewys dat Middelburg saamstaan wanneer dit regtig saak maak – en dat ’n gemeenskap se vinnige optrede ’n lewe kan verander.
