News

Haal uit julle warm komberse dit is somer…

Ekstreme weer sorg vir drie seisoene in een dag, plus ’n tornado

Saterdagoggend was dit ’n heerlike somersdag op Middelburg en 20 kilometer verder uit op die Van Dyksdriftpad was dit winter.

Fietsryers van Middelburg Fietsryklub het die mooi sonsopkoms afgeneem toe hulle in Dennesig weggetrek het en minute later die Duvha Kragsentrale, omhul in ’n koue miswolk.

Om drie seisoene in een dag te beleef, is nie meer snaaks nie.

Maar as jy oor die weer wil weet, gaan na ’n boer.
En die omgewing se boere is dit eens; ons beleef ekstreme weerstoestande.

Wie het nou gedink dat dit in die somer so koud gaan word dat jy jou warm kombers moet uithaal, soos twee boere vertel het.

Reuse haelkorrels in ’n boer se hand.
Gideon Anderson sê die weer is omgekrap met veral haelstorms wat die omgewing tref. Hierdie hael het verlede week op die dorp en veral in Dennesig geval. Foto: Verskaf.

Gerrie Gerrits van Pienaardam, wat verskeie plase in die omgewing besit, sê hy boer sedert 1977 en het nog nooit sulke weer beleef nie.
Ernst van den Berg, wie se plaas in die middel van Belfast, Wonderfontein en Carolina lê, som die buitengewone weerstoestande in een woord op “ekstreme”.
“Ons ken dit nie”.

Daar het sewe weke gelede 160mm op sy plaas geval en toe hou dit op reën.
“Terwyl dit by my droog is sit Jan Gerrits se trekkers in die lande vas so nat is dit”.

Die tornado wat die omgewing getref het, wys die weer se wispelturigheid, sê hy.
“’n Kampong is platgevee, seile en kanne is drie kilometer ver weggewaai, toe die tornado hier verby getrek het. Die een dag was daar nog ’n boom langs die pad en die volgende dag was hy weg”.

Ernst vertel dat hy maar met sy baadjie in die bakkie ry, want wanneer die son sak slaan die koue toe.
Op sy een plaas is ’n opstal wat in 1852 gebou is en hyself is al 67 jaar op die plaas. Geslagte wat die geite en gure van die weer ken, maar nog nie iets beleef het soos nou nie.
“Elke jaar sê die boere ag nee wat, dit is normaal, maar dit is nie meer normaal nie, ons beleef ekstreme weer wat ons nie ken nie.”

Mielieland deur hael verwoes.
Mielies in die Pienaardam omgewing het kwaai onder hael deurgeloop. Foto: Verskaf.

Dorus Bothma is al sedert 1976 in die Stoffberg omgewing.
Toe sy pa, Daan, in November opmerk dat die swaeltjies eers ’n maand later opdaag, het hulle besef die seisoene “het ’n maand aangeskuif”.
“Dit is sommige aande net agt grade, dit raak so koud dat ons ekstra komberse moet opgooi.”
Hulle beleef ook ’n besonder hoë reënvalseisoen met 400mm wat in November geval het.
“Ons het nog nooit so swaar geplant nie. Ons het gewoonlik so 50 hektaar per dag geplant, nou sukkel ons om 13 hektaar te plant.”

Hans-Jurgens du Toit, wat 20km van Roossenekal af boer, is die vierde geslag op die plaas.
Hy sê die Al Nina weerverskynsel is verantwoordelik vir die nat toestande.
“Dit is stormagtig met baie hael.”

In die Wapadskloof omgewing kon ’n boer net die helfte van sy lande plant so nat is dit.

Die son breek deur bome in Middelburg.
Saterdagoggend was dit somer in Middelburg. Foto: Verskaf.

Gawie Janse van Rensburg, van die Carolina omgewing, sê dit het al so koud geword in die aande, dat hy sy warm kombers moes uithaal.
Hy is al sedert 1958 in die omgewing.
“Ons het ongekende weer”.
Op sy plaas het daar vir drie weke nie ’n druppel reën geval nie.
Hy was geskok om die skade te sien wat verlede week se tornado aangerig het.
“Daar is ’n strook van tot 10 kilometer waar die mielies en soja weg is. Bome is ook omgewaai.”

Die ervare boer, Gideon Anderson, sê dit is ’n ware wipplank seisoen en nou raak die weer boonop bakleierig met al die haelstorms”.
Nou moet daar net sneeu val, dan het ons al alles gesien.
En soos die weer nou kat en muis speel, is selfs dit moontlik.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Check Also
Close
Back to top button