‘Huiskopers’ steel duur juwele van bejaarde vrou
Die bende wat hulle voordoen as huiskopers en mense besteel, is weer terug in die dorp!
‘n Bejaarde vrou is deur twee vroue besig gehou, terwyl ‘n man al haar juwele gesteel het.
Inwoners word gewaarsku dat die groep wat hulle voordoen as huiskopers en dan veral juwele steel, toegeslaan het in Mercurysingel, Mineralia.
Die slagoffer, wie se naam op versoek weerhou word, is met slim praatjies om die bos gelei en het sy eers later agtergekom dat al haar juwele, waaraan sy baie sentimentele waarde geheg het, gesteel is.
Sy was siekerig vroeër die week en was verstom toe die mense voor haar huis stop en vra of hulle na die eiendom kan kom kyk. Sy onthou net dit was ‘n groterige wit sedan.
Omdat sy nie lekker gevoel het nie, het sy die meeste van die tyd daardie dag gelê en haar trouringe afgehaal. “Sy haal nooit haar trouringe af nie, want sy en ons pa was byna 50 jaar getroud en sy het na sy dood twee jaar gelede steeds haar trouringe gedra. Hulle is daarmee ook weg!” het een van haar kinders kwaad gesê.
Die groep van drie het uitgeklim toe sy uitkom en haar gevra of die huis in die mark is. Sy het ‘nee’ gesê en wou weer teruggaan in die huis in. Die twee vroue het egter by haar gepleit dat hulle dan net na die mooi tuin wil kyk. Die man het aangedui dat hy in die kar sal wag.
Terwyl sy en die twee vroue in die tuin was, het die een nog vir haar ‘n astronomiese bedrag aangebied vir die huis, want sy wil kwansuis so graag die huis hê. Sy het hulle egter verseker dat die huis nie te koop is nie.
Nadat hulle weg is, het sy gesien dat al haar juwele gesteel is. Baie van die juwele is erfstukke wat onvervangbaar is. Wat haar die meeste ontstel is haar trouringe en ander juwele wat haar man vir haar gekoop het, soos die pêrelkrale en oorbelle.
Die vroue het haar buite die sig van die deur besig gehou, terwyl die man die huis in is en al die juwele gevat het.
Haar kinders doen ‘n beroep op veral pandjieswinkels om dadelik die polisie te kontak as enigiemand in die volgende afsienbare tyd waardevolle juwele probeer verkwansel. “Asseblief, dit het geen waarde vir ander mense nie, dit beteken so baie vir haar.”
