Egpaar en seuntjie nie ernstig beseer in ongeluk by verkeerslig
Die egpaar wat gisteraand hospitaal toe geneem is na 'n ongeluk in Kanonkop, het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.
Die egpaar wat gisteraand per ambulans hospitaal toe geneem is na die ongeluk by die verkeerslig op die hoek van Lilian Ngoyi- en Proteastraat, is na behandeling ontslaan.
‘n Ford Ranger en ‘n VW Polo het in die kruising gebots en die bestuurder van die rooi VW Polo is kort daarna op die toneel gearresteer. Die polisie en verkeer was op die toneel en die bestuurder van die VW Polo is gevra om in die alkoholvlak-toetser te blaas. Na die toets is hy gearresteer.

Daar is op die toneel gehoor hoe daar gesê word dat die VW Polo se lisensie in Oktober verval het en daar is bewerings gemaak dat die bestuurder van die voertuig ook nie ‘n lisensie het nie. Een van die omstanders op die toneel het ook genoem dat die eienaar van die voertuig agter gelê en slaap het ten tyde van die ongeluk.
Nie een van die bewerings is nog bevestig nie en die bestuurder van dié voertuig se naam kan nie bekend gemaak word nie, omdat hy nog nie in die hof verskyn het nie.
Jaco Nolan, die bestuurder van die Ford Ranger, vertel dat hy opgery het vanaf die dorp se kant na hul huis bo in Kanonkop. By hom in die voertuig was sy vrou, Quindeleen en seun, Christiaan (10).
“Die lig was groen vir ons. Ek het nie die rooi voertuig gesien voordat hy nie byna op ons was nie. Ek het probeer wegswaai en is die bakkie skuins voor getref. As ek nie uitgeswaai het nie, sou hy my vol op die deur getref het. Gelukkig het ek nie vinnig gery nie, die Tracker het gewys ek het 29 km/h gery.”
Jaco en Quindeleen is per ambulans na die Life Midmed Hospitaal geneem en Christiaan is deur familie hospitaal toe geneem. Na verskeie toetse is bepaal dat hulle gelukkig net spierbeserings en blou kolle opgedoen het en kon hulle huis toe gaan.
“Ek wil graag vir elke persoon wat gisteraand gehelp het, baie dankie sê. Van die mense wat op die toneel gestop het, tot by die insleepdienste, die paramedikuste van die ambulansdienste en die personeel van die Life Midmed Hospitaal.
- Jaco se pa, Ben, was buite homself van bekommernis toe hy van die ongeluk verneem en het na die toneel gejaag. “My kind is meer as 11 jaar gelede 12 keer met ‘n mes gesteek en vir dood agtergelaat. Ek is so dankbaar hulle is nie ernstig beseer in die ongeluk nie.”
Jaco het vanoggend weer die gebeure van 31 Augustus 2014 geskets. Hy is aangeval terwyl hulle vanaf Carolina na Middelburg verhuis het. Die aanvaller, wat hy, volgens hom, geken het, het hom gehelp om te trek.
Hulle het reeds alles op die sleepwa gelaai toe hy sien die man kom ingestap met handskoene en ‘n mes. Voor hy kon keer, is hy verskeie kere in die maag en agter op sy nek gesteek.
“My ma het op ‘n stadium gebel, maar hy het die foon net weggeskop.”
Jaco sê hy het gemaak of hy dood is, waarop die aanvaller die mes in die wasbak gegooi en weggery het met sy voertuig met sleepwa.
Die aanval was só erg, dat Jaco se ingewande half uitgehang het by sy maag en sy regterduim het aan ‘n velletjie gehang. Die eerste twee weke na die aanval was hy in die intensiewe eenheid.
Na die aanval het hulle ‘n R10 000 beloning aangebied om die persoon op te spoor en het die verdagte homself gaan oorgee.
“Die saak is voor die einde van 2014 teen hom teruggetrek weens ‘n gebrek aan bewyse.” Jaco se voertuig en sleepwa het hulle later in Mhluzi by ‘n woonstelblok teruggekry.
Jaco erken dat hy aanvanklik baie kwaad was oor wat gebeur het. “Ek is egter die een wat dit saam met my moes dra en dit help nie om ‘n wrok te dra nie. Ek moes aangaan met my lewe. Ek is dankbaar ek leef. Ek het net die letsels oorgehou.”
