KYK: Tjankende hond van gewisse dood gered uit vuil munisipale swembad op Belfast
'n Hond het vir ure getjank totdat hulp opgedaag en hy gered is.
Was dit nie vir barmhartige samaritane se hulp nie, sou ‘n hond beslis verdrink het in die Belfast (Emakhazeni) munisipale swembad.
Simonei Jansen vertel dat hulle al vroegoggend die aanhoudende getjank van die hond gehoor het en gedink het dat iemand dalk ‘n hond iewers toegemaak het.
Later het Simonei weer in die omgewing gery en gesien dat Alet Barnard by die munisipale swembad staan. Simonei het dadelik gestop en gevra wat aangaan, waarop Alet haar vertel het dat die hond in die swembad is.
“Alet het ‘n paar mense geskakel, maar hulle was almal by die optog teen trokke in ons dorp.”
Die brandweer is ook gekontak. Alhoewel hulle opgedaag het, het hulle nie die nodige toerusting by hulle gehad om die hond uit te haal nie.
Alet het daarna haar man, Kobus, gekontak en gevra hy moet kom help.
Kobus het aanvanklik met ‘n visskepnet die hond probeer uithaal, maar die hond het gegrom as die skepnet naby hom gekom het. Die Barnards se seun, Thinus, het aangebied om nog mense te gaan haal om te kom help en is daar weg.

Kobus het intussen op die badkamermurasie geklim en ‘n stuk dakkap afgebreek. Teen daardie tyd was Thinus terug met een van sy vriende en het die mans die dakkap onder die hond ingedruk en die skepnet aan die ander kant gehou sodat hulle hom kon uitlig.
Die oomblik toe hy uit was, het hy vinnig gedraf dorp se kant toe en hulle vermoed hy het dadelik na sy huis toe gehol, want hulle het hom nie weer naby die swembad gesien nie.
Simonei meld dat dit nie die eerste keer is dat daar ‘n dier in die vuil swembad, wat toegegroei is met bosse en lang gras, val nie. “Daar het ook al ‘n bees en bokke daar ingeval!”
Wat haar en talle ander inwoners bekommer, is dat daar nie omheinings is nie. “Daardie swembad hou ‘n gevaar in vir ons viervoetige diere en inwoners. More oormore is daar ‘n klomp kinders wat daar loop en netnou verdrink iemand! Die swembad is baie diep en baie vuil!”
Die swembad is geleë langs die afgebrande stadsaal en die hele area is ‘n steen des aanstoots vir inwoners.
“Ons moet almal saamstaan en die munisipaliteit oorreed om die swembad toe te gooi!”
- Die Observer het talle kere die Emakhazeni Munisipaliteit geskakel, maar die fone het net gelui. Sodra ons ‘n antwoord kry, sal ons ‘n opvolg doen.
@middelburgobserver Helpless howling dog stuck in muddy unused Belfast (Emakhazeni) municipal pool . Later rescued by concerned residents. RescueofDog, Belfast, Emakhazeni, MuddyPool, RescueProject, HowlingDog
