News

Eerste erfenisregister van sy soort

Al meer dorpe bewaar hulle eie erfenisskatte in museums.

Die Erfenisstigting (ES) het ’n nuwe inisiatief van stapel gestuur om ’n omvattende indeks te skep van alle privaat museums, erfenisterreine en erfenisgoedere wat verband hou met Afrikanererfenis.

Hierdie projek is daarop gemik om gemeenskappe, families en geesdriftige erfenisbewaarders reg oor Suid-Afrika te help om ons geskiedenis sigbaar, toeganklik en beskermd te hou.

Al meer privaat museums word op dorpe reg oor die land geopen, omdat die staat sy plig om die geskiedenis te bewaar versaak.

Items uit die Ouma se huis-museum by die FAK se Udolpho-Rivierplaas buite Parys is ’n treffende voorbeeld van hoe alledaagse voorwerpe met ’n ryk geskiedenis in ’n privaat museum bewaar word. Foto: Monique Lubbe.

Op Middelburg is die privaat OH Frewin Museum vir die druk en gemeenskapspers.

By die NG Kerk op Belfast is ’n museum begin om die dorp se geskiedenis te bewaar.

“Ons staan by ’n keerpunt in die bewaring van Afrikanererfenis. Ons sien toenemend hoe van erfenisterreine tot familieversamelings en privaat museumprojekte verlore begin raak omdat mense nie daarvan bewus is of nie weet hoe om daarna om te sien nie. Baie van hierdie geskiedenis lê in die hande van gewone mense, en ons moet dit enersyds sigbaar en toeganklik maak, en andersyds aktief beskerm,” sê dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Kultuurtuiste.

Volgens Langner is dié besonderse projek deur die Erfenisstiging nog ’n pyl in die Afrikaner se koker om die geskiedenis vir die volgende geslag behoue te laat bly. “Elke stukkie erfenis, elke klein museum, elke geskiedenisfragment wat deur ’n familie of gemeenskap bewaar word, is ’n herinnering wat opklink: ‘Ons was hier, en ons storie maak saak.’ Ons doel is om te help om daardie stemme en stories te bewaar.
“Ons droom is dat elkeen toegang het tot die stories wat ons voorgeslagte help vorm het en ons toekomsboudrome rig. Dit begin met gewone mense wat met trots hul buitengewone geskiedenis bewaar en deel,” sê hy.

Waarom ’n nasionale register?

In Suid-Afrika word museums hoofsaaklik deur provinsiale of munisipale owerhede bestuur, sê Lizette Jansen, ES-bestuurder. “’n Beduidende hoeveelheid kultuurhistoriese materiaal is egter in privaat besit of op privaat terreine. Oor die dekades het families, boerderygemeenskappe, kultuurorganisasies en privaat versamelaars hul eie unieke museums of uitstallings ingerig – dikwels sonder ’n sentrale databasis, wat daartoe lei dat hierdie ruimtes dikwels oor die hoof gesien word.”

Jansen beklemtoon dat die ES se werk daarop gemik is om as ’n vennoot en ondersteuner op te tree sonder om eienaarskap van hierdie projekte te neem. “Ons kan nie na alles omsien nie, maar ons wil graag hê dat mense self eienaarskap van hul eie erfenis neem – erfenis wat hulle kan beheer en waarop hulle trots is. Wanneer iemand hul eie museum of terrein inrig, wil ons graag daarvan weet.”

’n Uitsonderlike kraan-toekenning deur William Nicol uit die Pieter de Jager-versameling – ’n herinnering aan die belangrikheid daarvan om persoonlike erfstukke vir toekomstige geslagte te bewaar. FOTO: ES argief.

Die databasis sal help om gemeenskappe te verbind, navorsers te ondersteun, en belangstellendes na museums en terreine te lei wat dikwels onbekend is. Dit kan derhalwe nuwe bemarkingsgeleenthede vir privaat museumprojekte ontsluit, aangesien besoekers makliker inligting sal vind oor wat daar in die omgewing te sien is.

Só help die Erfenisstigting

Die Erfenisstigting bied verskeie voordele aan mense wat hul museums of erfenisterreine registreer:
• Die ES help om jou projek te bemark en die sigbaarheid daarvan te verhoog;
• Geregistreerde lede ontvang afslag op bewaringskursusse wat spesifiek ontwerp is vir die professionele versorging van kulturele eiendom; en
• Die ES bied deurlopend spesialisadvies oor die bewaring, dokumentering en hantering van erfenisvoorwerpe.

Fyn bewaarde meubels gemaak deur Anglo-Boereoorlog-krygsgevangenes illustreer waarom die Erfenisstigting sulke waardevolle items wil dokumenteer om hul betekenis te versterk. Foto: ES argief,

Daar is ’n eenmalige administrasiefooi van R500 om deel van die register te word, en registrasie is maklik. Registreer hier: https://es.org.za/registreer-hier/
Nasionale status deur gemeenskapskrag.

Jansen beklemtoon dat die projek slegs met gemeenskapsamewerking kan slaag. “Ons wil graag ’n netwerk bou wat ons gedeelde geskiedenis vir die volgende generasie sal beskerm.”

Die Erfenisstigting nooi alle belanghebbendes – van families met klein tuismuseums tot groter private kultuurinstellings – om deel te word van hierdie waardevolle nasionale inisiatief.
Die ES kan jou ook help om amptelike status vir jou museum of terrein by die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbronagentskap (SAEHA) te verkry. Hierdie erkenning kan bydra tot bewarings- en navorsingsmoontlikhede.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button