Iets positief om oor te rapporteer toe Afriforum parke skoonmaak
Kyk ’n bietjie rond dalk is daar meer om oor te glimlag en minder om oor te kla
Joernaliste moet dikwels hoor “skryf bietjie iets positief”.
In ’n swartgallige wêreld is dit nie altyd maklik nie.
Maar hoe sing Danie Botha? “Kyk ’n bietjie rond, is daar liefde in jou lewe?”
Somtyds moet ons net bietjie rondkyk om die mooi raak te sien.
Blinkskoon park
Daar is in Desember erg gemor oor die parke in Kanonkop wat bemors is.
Totdat lesers laat weet het “gaan kyk hoe mooi is die parkie in Clubville”.
Ons het gaan kyk en ’n blinkskoon park aangetref, wat deur privaat inisiatief in stand en netjies gehou word.
Die sakeman wat die park skoon hou, het gevra om nie geïdentifiseer te word nie. Hy wil nie erkenning hê nie.
Positiewe nuus
Dinsdag laat weet Janet Steenkamp “sy het bietjie positiewe nuus”.
Afriforum se buurtspan was besig om die gras te sny en skoon te maak by die park in Kareelaan en langs die konsentrasiekamp grafte.
Sy was so beïndruk deur die poging, dat sy vir hulle koeldrank gevat en sommer ’n foto geneem het.
Ons mooi dorp
Met die goeie nuus dat die Samora Machelstraat begraafplaas ook weer skoongemaak is, is daar sommer baie om oor te glimlag, in ons mooi dorp.
Miskien moet ons net meer rondkyk nie, maar ook meer erkenning gee. Dan het ons meer “positiewe nuus”.
