News

Huurders los voormalige Oorwinnaarshuis soos varkhok

Huurders het in die nag net verdwyn en ’n huis só erg verwaarloos dat daar dae gewerk is om dit net weer leefbaar te maak.

In wat eens die netjiese huis was van die Oorwinnaars Halfweghuis vir dwelmverslaafde mans, is letterlik ‘in ’n varkhok’ agtergelaat deur huurders.

Past. Jannie Jacobs was verstom toe sy dogter hom laat weet dat die huis, wat in Cowen Ntulistraat in Gholfsig geleë is, in so ’n haglike toestand agtergelaat is. Die huurder het oornag verdwyn.

“Dit is hartseer dat mense ’n plek so kan agterlos,” vertel hy omgekrap nadat hy self die huis onder oë gehad het en vir etlike dae Middelburg toe moes kom vir herstel- en verfwerk.
Deurhandvatsels, teëls en krane is gebreek, die swembad was grasgroen en dit was so vuil in en om die huis, dat hy eintlik skaam gekry het om te sê dit is sy huis nadat die huurder dit so gelos het. “Die kokkerotte het ook oral rondgehardloop!”

Die huurders het nie hul hand op die swembad gehou nie en die water het grasgroen geword. Foto: Verskaf.

Hy erken dat die huurder hom ’n gat in die kop gepraat het om die eiendom by hom te huur.
“Die persoon het vir ons gesê dat haar man in Ierland werk en ons het haar jammer gekry. Sy het ook allerhande ander stories te vertel gehad oor die vorige mense by wie sy gehuur het en ek het haar sowaar geglo!”

Volgens past. Jacobs het sy nooit die volle deposito betaal nie en skuld hom R40 000 aan agterstallige huurgeld (wat die deposito insluit). Die herstel, skoonmaak en verfwerk laat hierdie bedrag nog verder klim.
“Sy het beloof dat hulle ons plek in stand sal hou.”

Boonop het die vrou hom selfs “gedreig met ’n prokureur!”

Past. Jacobs sê hy glo hulle is nie die enigstes wat kla oor huurders wat skade aan eiendomme veroorsaak nie.

“Dit is baie duurder om deur ’n agent ’n eiendom te huur en ons wou help, maar dinge soos hierdie maak dat ’n mens nie meer wil help nie en in die vervolg maar deur ’n agentskap sal werk!”

• Die Oorwinnaarshuis vir dwelmverslaafde mans was welbekend in Middelburg. Hulle het later geskuif na ’n plaas buite die dorp waar past. Jacobs talle verslaafdes gehelp het op die pad na herstel. Hy het sowat twee jaar gelede die Oorwinnaarshuis toegemaak en uitgetree.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button