Gebeur daar nog wonderwerke?
Twee vroue se angsrit en die ultra-atleet se wonderbaarlike herstel ...
Gebeur daar nog wonderwerke?
Op 3 September verlede jaar vra die Middelburg Observer die vraag. Nee, ons het nie probeer bewys daar gebeur nog wonderwerke nie. Ons het ’n paar gebeurtenisse vertel waar mense aan die einde uitgeroep het; “dit is ’n wonderwerk”.
Uit Amerika het pennelekker wat homself “Goddeloos” noem, dadelik reageer met “dit is nonsens, daar gebeur nie wonderwerke nie”. Wanneer mens vir Google vra wat is ’n wonderwerk antwoord hy “’n wonderwerk is ’n buitengewone, bonatuurlike gebeurtenis of handeling wat die natuurwette teengaan en algemeen aan God se almag toegeskryf word. Dit is ’n gebeurtenis wat onbegryplik is, soos genesing of redding, wat God doen om sy teenwoordigheid en krag te toon.”
Kry tien uur die aand verlede week en Sondag ’n oproep oor ’n “wonderwerk”. Kon nie die nag verder slaap nie. Wil nie oor wonderwerke skryf nie, omdat skeptici se aanvalle jou gemoed verdonker. Boonop is ’n familielid betrokke. Worstel reg deur die nag met “Die Stem”. “Die Stem” wat sê jy moet skryf.
Bel eerste ding Maandagoggend my niggie, Elsie Lategan (Van Rooyen) op Nelspruit. “Vertel asseblief”.
Sy was saam met haar stapmaat Annie van Heerden (67) by die hek van die Steiltes Natuurreservaat op Nelspruit vir die Lowveld Ramblers se uitstappie.
Elsa (60) was een van die organiseerders. Die staptog sou eers half agt begin maar hulle is al sewe uur daar.
Die hek is gesluit. Een van die Laeveld se ultra veldloop atlete, Werner Oosthuizen (45), het ook by die reservaat aangekom. Hy neem die eerste week in Maart aan die Pass2Pass veldwedloop in die Wellington omgewing deel en wou in die reservaat draf ter voorbereiding van die wedloop. Die hek is gesluit en Elsa stap na haar kar om ’n oproep te maak, sodat die hek oopgesluit kan word.
Terwyl sy om haar kar na die bagasiebak stap om haar selfoon te kry, kom Werner aangehardloop terwyl bloed uit sy arm spuit. Hy wou oor die palissadeheining klim om by die reservaat in te kom, toe die boom waarop hy staan meegee en sy bo-arm deur die vlymskerp palissade deurboor word. Sy slagaar is afgesny.
Hy het die twee vroue gevra om hom dadelik na die Nelspruit Mediclinic te haas. Elsa het nie twee keer gedink nie. Asof in ’n staat van outomatisme reageer sy. Terwyl hulle na die hospitaal jaag, bid Annie onophoudelik: “Here help ons asseblief”. Agter in die Ford-voertuig bid Werner ook.
Elsa het haar staphempie so in die ry uitgetrek en vir Werner gegee om die bloeding te probeer stop. By die hospitaalhek het sy net gesê “severe blood lost, emergency”. Kort hierna het Werner sy bewussyn verloor. Hy is gestabiliseer, met ’n ambulans na Belfast vervoer en van daar met ’n helikopter na die Sandton Mediclinic se intensiewe sorgeenheid in Johannesburg afgevoer.
Is Elsa voorberei vir hierdie dag? In 2020 het haar man, Andre, ook van ’n leer afgeval en die palissade het in sy maag gesteek. Later toe sy weer die roete ry, was daar spoedwalle wat sy nie eers geweet het sy oor gejaag het nie. Laevelder publiseer die angsrit op hulle webblad.
Dinsdagmiddag bel redakteur Stefan de Villiers en vra vir ’n opvolg van die berig vir die gedrukte weergawe. Bel Werner se vrou Ianthé om na sy welstand te verneem. Verwag ’n swaarmoedige stem. Dit is ’n blymoedige stem.
“Hoe gaan dit met Werner?” Die skok: “Wil jy met hom praat? Hy sit hier langs my ons is op pad terug huis toe”. Die man wat drie dae gelede soveel bloed verloor het dat daar vir sy lewe gevrees is? Wat met ’n ambulanshelikopter na Johannebsurg afgevoer moes word? Nou op pad terug huis toe?
Hy wat al ses uur by die reservaat was maar besluit het om nie oor die palissadeheining te klim soos hy al seker 20 keer vantevore gedoen het nie. As hy ses uur deurgeklim het en die twee vroue was nie daar nie?
As Elsa nie sy opdrag uitgevoer het en dadelik hospitaal toe gejaag het nie, maar eers vir ’n ambulans gewag het? As ander motoriste nie vinnig padgegee het toe sy aangejaag kom met noodligte aan nie? As die hekwag nie blitsig reageer en Nelspruit Mediclinic nie so vinnig en professioneel opgetree het nie?
As die helikopter hom nie op Belfast kon oplaai weens die dag se ongure weer nie?
Daar is nog vele vrae. Die grootste hiervan is, gebeur daar nog wonderwerke?
