News

Rowers koggel slagoffers in middedorp misdaadnes

Slagoffer sê rower treiter hom na diefstal by verkeerslig.

’n Plaaslike man is gister omstreeks 10:00 van sy selfoon en bestuurderslisensie in Cowen Ntulistraat in die middedorp beroof.

Die man, wat versoek het om anoniem te bly, sê dat hy by ’n verkeerslig gewag het toe sy bakkiedeure skielik oopgeruk is van weerskante af.

Die rowers wat gewapen was het sy bakkie vanuit die blindekol genader.

Die man aan die bestuurderskant het dadelik ’n mes of skroewedraaier teen die slagoffer se sy gedruk, terwyl die rower aan die passasierskant sy selfoon gegryp het.

Die slagoffer se lisensie was agter sy selfoon ingedruk soos talle mense met hul ID-kaarte, bankkaarte en lisensies doen.

Hy sê hy’s klaar in die proses om sy lisensie te vervang.

Die slagoffer sê dat hy vinnig afgetrek het en die rowers begin jaag het voordat hy deur ’n ander man teruggeroep is na sy bakkie.

Die man het glo vir hom geskree hulle peuter aan sy bakkie, wat hom laat omdraai het.

Terug by sy bakkie was daar egter niemand.

’n Ooggetuie in ’n nabye selfoonbesigheid het hom vertel dat die spul almal saamwerk.

Die slagoffer het die man wat hom aan die bestuurderskant gekonfronteer het, ook raakgeloop en vir hom gevra waar’s sy selfoon.

Die rower het toe weer die wapen by hom te voorskyn gebring en die slagoffer tartend gevra of hy hom van diefstal beskuldig.

Die slagoffer het besluit om te ry en vandag die saak by die polisie gaan aanmeld.

Die polisie het sy verklaring gevat en die slagoffer gehelp met die nodige dokumente om vir sy versekeraars te gee, hulle wou egter nie ’n saak registreer nie.

Volgens die man in die selfoonwinkel skrik die middedorpse kriminele ook nie meer vir die polisie nie.

• Die Middelburg Observer het net nou die dag berig van ’n bejaarde egpaar wat drie maal in vier maande buite ’n groothandelaar beroof is.

Met hulle het die boewe ook net ’n ent gehardloop, teruggedraai en die bejaardes gekoggel.

“Mense moet maar uit die middedorp bly,” sê gister se slagoffer.

Hy sê hy vermoed hy’s met ’n mes aangeval, hoewel dit ook iets soos ’n skroewedraaier of ander skerp voorwerp kan wees waarmee hy gedreig is.

Hy kon die wapen nie mooi sien nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button