Die oud Hoërskool Middelburg kaptein, Grant de Jager, kan dalk volgende week in die voetspore volg van Kwagga Smith en JC Pretorius.
De Jager is in die Blitsbokke se groep vir die HSBC SVNS Noord-Amerikaanse been,
Die volgende twee wêreldreekstoernooie is op opeenvolgende naweke in Vancouver (7-8 Maart) en New York (14-15 Maart).
Na skool is De Jager na Stellenbosch waar hy eers senter en later vleuel vir Maties in die Varsitybeker gespeel het.
Blitsbok-hoofafrigter Philip Snyman het ses veranderinge aan die groep aangebring wat aan die begin van die maand seëvierend van Perth teruggekeer het.
Die oud Middie moet meeding teen ’n sterk groep Blitsbokke. Ronald Brown en Dewald Human word terugverwelkom met Gino Cupido ook weer deel van die groep.
Selwyn Davids en Brown het herstel van beserings wat hulle in Desember in Kaapstad opgedoen het, Cupido is terug nadat hy laat aan die Singapoer/Perth-been onttrek is, en Human keer vir die eerste keer hierdie seisoen terug.
Snyman het gesê dit was ‘n moeilike besluit om die veranderinge te maak, maar dat hul hoofdoelwitte – om die speeldiepte te verbreed en soveel fiks spelers as moontlik vir die HSBC SVNS Wêreldkampioenskaptoernooie later in die seisoen te hê – nie verander het nie.
“Spelers soos Zain Davids en Ricardo Duartee kry ‘n blaaskans as deel van die werklasbestuur, terwyl Zander Reynders nie beskikbaar was nie, aangesien hy nog nie ten volle herstel het van ‘n skouerbesering wat hy in Perth opgedoen het nie, en hy word deur Grant vervang,” het Snyman gesê.
“Ek is bly om Grant in te sluit, hy is ‘n uiters talentvolle speler wat regtig hard werk in die oefensessies en hy verdien hierdie kans.”
De Jager, wat B.Sc aan die Universiteit Stellenbosch studeer, het aan die begin van die seisoen ‘n Blitsbok-kontrak verdien na ’n reeks sterk vertonings vir FNB Maties in die 2025 FNB Varsitybeker. Hy het ook verlede jaar vir die Springbok Sewes ‘A’-groep in Mauritius en die Shogun International RFC in Dubai gespeel.
“Spelers soos Quewin Nortje en Jaydon Nell het die toer misgeloop omdat ons nie te veel spelers van besering vir hierdie reis wou terugbring nie.
“Oor die algemeen is dit ‘n ervare en opwindende groep wat sal reis en om te weet dat die spelers wat agterbly hard druk en ‘n omgewing van mededingende uitnemendheid skep, is ‘n goeie plek om vir hierdie groep te wees.”

HSBC SVNS Vancouver groepe:
Poel A: Suid-Afrika, Nieu-Seeland, Spanje, Groot-Brittanje
Poel B: Fidji, Australië, Argentinië, Frankryk
Springbok Sewes-groep vir Vancouver en New York:
#1 Christie Grobbelaar – 26 toernooie, 215 punte (43 drieë)
#2 Ryan Oosthuizen – 60 toernooie, 260 punte (52 drieë)
#3 Impi Visser (kaptein) – 48 toernooie, 230 punte (46 drieë)
#7 Ronald Brown – 22 toernooie, 453 punte (47 drieë, 109 doelskoppe)
#8 Selvyn Davids – 44 toernooie, 739 punte (97 drieë, 127 doelskoppe, 1 strafdoel)
#10 Dewald Human – 31 toernooie, 320 punte (30 drieë, 85 doelskoppe)
#11 Siviwe Soyizwapi – 62 toernooie, 795 punte (159 drieë)
#12 Shilton van Wyk – 31 toernooie, 330 punte (66 drieë)
#15 Donavan Don – 13 toernooie, 113 punte (21 drieë, 4 doelskoppe)
#16 Sebastiaan Jobb – 6 toernooie, 45 punte (9 drieë)
#19 David Brits – 13 toernooie, 55 punte (11 drieë)
#24 Tristan Leyds – 15 toernooie, 170 punte (22 drieë, 30 doelskoppe)
#28 Grant de Jager – ongetoets
#35 Gino Cupido – 1 toernooi, 20 punte (4 drieë),
