Matrikulant se motorfietse in Kanonkop gesteel
Kanonkop loop nie net deur onder hekmotordiefstalle nie, maar word nou ook geteiken deur motorfietsdiewe!
’n Matrikulant het vanoggend gaan eksamen skryf met groot ongelukkigheid in sy hart, want beide sy motorfietse is by hul huis in Oribistraat (Kanonkop) gesteel.
Hein Venter sê sy seun, Jaco, het van kort na 01:00 vanoggend af saam met hom Kanonkop deurkruis om te kyk of hulle nie die motorfietsdiewe kry nie, maar hulle was skoonveld.
Hulle is omstreeks 00:45 gewek met die aanhoudende geblaf van die honde en het dadelik gaan kyk, maar kon niks sien nie.
Volgens Hein het die honde teen 01:10 skielik ‘snaaks’ begin blaf en het hulle weer gaan kyk. Dié keer het die voorste palissadehek oopgestaan en was die booswigte reeds weg.
Die diewe het die hek oopforseer, na agter in die erf beweeg, waar hulle met boutsnyers die kettings en slotte wat aan die motorfietse vas was, losgesny en die motorfietse uitgestoot het.
Dit is ’n oranje 125cc KTM veldmotorfiets en Jaco se trots, ’n rooi en silwer 150cc GSX Suzuki motorfiets (registrasienommer KCM840MP)). Jaco het laasgenoemde twee jaar gelede met sy 16e verjaardag gekry. Die waarde van die twee motorfietse is onderskeidelik R20 000 en R33 000.

Hein meld dat hulle naby die Lionspark in Oribistraat bly en hy doen ’n beroep op inwoners wat dalk CCTV kameras het wat op die pad wys, om hul beeldmateriaal na te gaan om te kyk of hulle nie dalk die diewe sien nie. “Dit was presies tussen 00:45 en 01:10.” Hy kan gekontak word by 076 830 1412.
