Middelburg-spoedkameras: 4 weke, 43 000 boetes
Middelburg se spoedkameras het binne een maand 43 000 boetes beloof. Terwyl die munisipaliteit padveiligheid as rede verskaf, is inwoners reeds agterdogtig en warm om die kraag oor dié stelsel.
Sowat 43 000 motoriste in MIddelburg, is binne slegs vier weke met behulp van spoedkameras beboet.
Volgens die Steve Tshwete Plaaslike Munisipaliteit se Facebook-inskrywings, ‘Verkeersnuus vir die week’, lewer dié ICAM-stelsel weekliks meer as 10 000 spoedvrate wat op sy kamera gekliek is.

Statistieke vir Februarie dui aan dat 10 545 boetes in die week van 2 tot 8 Februarie, 10 998 tussen 9 en 15 Februarie, 11 023 tussen 16 en 22 Februarie, en 10 603 tussen 23 Februarie en 1 Maart uitgereik is.
Hierdie enorme aantal boetes het inwoners reeds agterdogtig en warm om die kraag oor die presiese werking en bestuur van die stelsel.

Navrae is aan die munisipaliteit gerig oor die wettigheid en sertifisering van dié kameras. Asook of swaarvoertuie en vragmotors deur die stelsel vasgevat word.
Verder is daar gevra oor watter private maatskappy die administrasie hanteer en of enige munisipale raadslede of amptenare moontlik ’n finansiële belang in die kontrak het.
Die projek is in September 2025 deur die munisipaliteite en burgemeester, Mhlonishwa Masilela, bekendgestel. Dié stelsel is gemik op veiliger paaie en om padgebruikers soos voetgangers en fietsryers te beskerm.
Moniteringstelsels bestaan uit tydelike installasies en mobiele eenhede wat in ‘hoërisiko-gebiede’ geplaas word. Verkeersbeamptes monitor glo die data op elektroniese tablette.
Intussen gons dit in die gemeenskap oor ’n kamera naby die Meyersbrug, wat sedert die naweek skielik verdwyn het.

Inwoners wonder of dié ‘kamera-spietkop’ wat dag en nag waghou, verwyder of dalk gesteel is.
Middelburg motoriste – wees liefs gewaarsku en glimlag groot, want jy ís op kamera!
- Teen druktyd het die munisipale mediakantoor nog geen kommentaar op enige van die koerant se vrae gelewer nie.
