Mens kan dit nie beskryf nie.
Jy moet dit beleef.
Aan jou wese voel.
’n Bondel fietsryers.
Jy hoor net die stille gesing van wiele.
Iemand staan uit sy saal op.
Dit is ’n woeste gejaag.
Amper soos ’n klomp perde wat stal geruik het.
Die swakkeres wat nie kan byhou nie… bly agter.
Vir ’n oomblik kalmeer dit.
Die volgende oomblik probeer iemand weer wegkom.
Teen duiselingwekkende spoed word daar gejaag.
Fokus!
Fokus!
Fokus!
Jy sit op die ryer voor jou.
As wiele aanmekaar raak, val jy tot in die derde geslag van die wat jou haat.
Adrenalien spoel soos golwe deur jou brein.
’n Onbeskryflike ekstase.
Dit is daardie adrenalien waaraan die driekamper en oud Middie, Magda Nieuwoudt, duidelik aan verslaaf geraak het, vandat sy op padfiets wedrennne fokus.
Sy het derde in die RideJoburg onder die elite vroue geëindig.
Na die Kaapse Fietstoer skryf sy:
“Aan die begin van die wedren was ek net gefokus om veilig deur die groot groep te kom. Na 17 km het 12 of so van ons weggebreek. Van daar af was dit moeilik en aggressief tot aan die einde, wat ek absoluut liefgehad het! Ek het probeer om dit moeilik te maak teen Suikerbos op, met die hoop dat sommige meisies sou agterbly, maar net voor die einde van die klim, het hulle my gewys hoe padfietsry-klim lyk. Hulle het my agtergelaat en ek moes 11 kilometer hard teen die wind jaag, om die groep weer net buite Kampsbaai in te haal.”
“Ses kilometer na die eindstreep het ek die groep weer ingehaal. Daardie laaste kilometers het in 30 sekondes verbygevlieg. Nog ’n naelrit na die eindstreep waar ek ’n groot kans gewaag en vroeg begin jaag… te vroeg. Maar ek sterf eerder as om net te oorleef. Dit was ’n groot eer om die spoed van die top-vroue in ons sport te kon sien, kyk en voel. Ek het dit absoluut verskriklik geniet.”
Magda was negende.
Elite vroue uitslae:
- Lisa Bone: Enza Construction Cycle Nation (2:06:26)
- Daria Pravilova: Etalon (ST)
- Kate Courtney: She Sends Foundation (ST)
- Vera Looser: Efficient Infiniti Insure (ST)
- Tiffany Keep: DAS Hutchinson (ST).
