News

Bekende taalman skryf aan minister oor ‘onaanvaarbare’ behandeling by King Nyabela Hospitaal

’n Inwoner van Presidentsrus het die Minister van Gesondheid genader ná ’n ontstellende voorval waarin sy 90-jarige moeder glo ure lank sonder behandeling in die King Nyabela hospitaal se ongevalle-afdeling gelê het.

Die dramaturg en taalpraktisyn, Deon Johnston, het ’n formele brief aan die Minister van Gesondheid, Aaron Motsoaledi, geskryf ná ’n ervaring wat hy as, “skokkend, en die teenoorgestelde van sorg en deernis” beskryf.

Deon, wat op Presidentsrus (net buite Middelburg) woon, is bekend vir sy werk as akteur in sepies soos 7de Laan, Binnelanders en Scandal!, asook sy bydraes tot radio op Radio Kragbron en RSG. Hy werk tans as taalpraktisyn en draaiboek-vertaler vir televisie.

Voorval in ongevalle-afdeling

Die voorval het Vrydagaand, 13 Maart, plaasgevind toe hulle sy 90-jarige ma kort voor 18:45 na die nuwe King Nyabela Hospitaal in Middelburg geneem het met ernstige simptome, wat verwarring, naarheid, oormatige sweet en baie hoë bloeddruk ingesluit het.

Volgens Deon is sy ma met aankoms in ’n bed geplaas, en na ʼn kort gesprek met ʼn dokter is hulle gevra om buite te wag. ʼn Verpleegster het ʼn paar minute later kom rapporteer dat haar bloeddruk steeds hoog is, maar nie meer lewensgevaarlik is nie.

‘Ons het nie komberse nie’

In sy brief aan die minister skryf Deon dat sy ma, wat ook aan ernstige gehoorverlies ly, later probeer opstaan het omdat sy koud gekry het, weens die feit dat haar klere natgesweet was. Dit was die aand baie koud.

Hulle het haar teruggedruk in die bed en Johnston aangesê om na haar te gaan kyk, want hulle is besig en kan haar nie oppas nie.

Hy het toe self vir ’n kombers gaan vra om sy moeder gemakliker te maak en om haar te probeer warm kry. Toe hy ’n verpleegster vra vir ’n kombers, was haar reaksie, volgens hom: “Ons het nie komberse hier nie. Hierdie is ’n ongevalle-afdeling, nie ’n hotel nie.”

Vyf uur sonder behandeling

Deon sê sy ma het vir ongeveer vyf ure in die ongevalle afdeling gelê, tussen 18:45 tot 23:45, sonder dat enige dokter of verpleegster weer by haar was. Sy is totaal geïgnoreer.

Volgens hom het ’n dokter geïrriteerd gereageer toe hy kort voor middernag gevra het of hulle haar kan evalueer (bloeddruk neem en kyk na haar toestand). Hy het ook aan die dokter verduidelik dat dit baie laat is en hy dringende omstandighede by die huis het wat hy ook moet hanteer. Dis toe dat die dokter glo haar stem verhef het. “Haar woorde aan my was: ‘Ons is besig. Jou behoefte om huis toe te gaan is ’n sosiale probleem wat nie my verantwoordelikheid is nie.”

Hospitaal verlaat sonder hulp

Ná ure sonder enige mediese aandag en die feit dat sy ma vir hom begin beter lyk het, en hy weer met haar kon kommunikeer, is daar besluit om huis toe te gaan. “Ons sou in elk geval beter na haar gekyk het as hulle, want nie een van hulle was ooit weer by haar nie.”

Hy meld dat toe hulle gereedmaak om te vertrek, het die personeel skielik daarop aangedring dat dokumente onderteken word wat aandui dat ‘behandeling geweier is’, maar hy het geweier om die dokument te teken. “Behandeling kan nie geweier word as dit nooit aangebied is nie,” het hy gesê.

Minister se kantoor reageer
Die kantoor van die minister het intussen die klagte ontvang en bevestig dat dit vir verdere ondersoek verwys is.

In ’n skriftelike reaksie lui dit:
“Die Nasionale Departement van Gesondheid erken hiermee ontvangs van u klagte en bedank u vir die indiening daarvan, aangesien dit help om die gehalte van gesondheidsdienste te verbeter. U klagte is na die Mpumalanga Provinsiale Departement van Gesondheid verwys vir verdere ondersoek en regstelling. Die departement is ook versoek om u direk in kennis te stel van die uitkoms van die ondersoek.”

Oproep vir ondersoek

Deon sê hy is geïmponeer met die netjiese nuwe hospitaal, maar dat die manier waarop personeel families en pasiënte in dié hospitaal hanteer, geensins aanvaarbaar is nie.

Hy het gevra dat die gesondheidsdepartement hierdie voorval deeglik moet ondersoek en dat indringende stappe geneem moet word om te verseker dat bejaarde en kwesbare pasiënte nie vir sulke lang tye sonder sorg in dié noodafdelings gelos word nie.

Hy sê dat moderne infrastruktuur, “min beteken sonder empatie, aanspreeklikheid en behoorlike pasiëntsorg.”

  • Daar is navraag gedoen by die mediakantoor van die provinsiale gesondheidsdepartement wat die pasiënt en Deon se kontakbesonderhede verlang het. Verder het ons ook uitgevra oor al die ander klagtes die afgelope paar weke, of dit ondersoek is en wat die uiteinde van die ondersoeke was. Daar is nog nog terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button