Johan van Zyl se diens kan aanlyn gevolg word
Persone wat nie Johan van Zyl se roudiens kan bywoon nie, kan dit aanlyn volg.
Johan van Zyl was geliefd regdeur die land en kan almal wat nie die diens kan bywoon nie, die roudiens aanlyn volg.
Die troosdiens is Saterdag om 11:00 uit die Lighuis gemeente in Pongolastraat, Aerorand. Die aanlynskakel om die diens te volg is HIER BESKIKBAAR.
Johan se swaer, past. Pieter Jordaan, sal die diens lei. Past. Jordaan is getroud met Johan se suster, Tollie.
Johan se vrou, Joey, sê haar dogter, Jané Vermeulen, wat deel is van die 1313 Familia & Virago Motorfietsklub, het dit goedgedink om in herinnering aan Johan ’n spesiale konvooi van motorfietsryers vanaf Roseleigh Begrafnisdienste na die kerk te reël.

Motorfietsryers kom om 09:45 bymekaar by Roseleigh Begrafnisdienste in Wesstraat. Hulle sal om 10:15 van daar af saam vertrek in ’n konvooi na die kerk. By die kerk sal ‘n erewag gevorm word vir Johan se familie as hulle in die kerk ingaan en weer uitkom.
Persone wat nie met hul motorfietse kan ry nie, word gevra om steeds hul valhelms saam te vat kerk toe om deel van die erewag te vorm.
• Joey sê sy het letterlik al honderde boodskappe van boemoediging gekry, wat haar net weer laat besef het hoe geliefd Johan was.
• Johan is Saterdagmiddag opslag dood in ’n ongeluk sowat 5km buite Groblersdal op die Bronkhorstspruitpad. Die vermoede bestaan dat hy moontlik ’n draai te wyd gevat het, waarop die motorfiets ’n blok uitgekapte teer langs die pad getref het. Johan is van die motorfiets af geslinger en is op die toneel dood verklaar.
