DBV besoek Blinkpan-erf ná kommer oor honde
Die Middelburg DBV het oor die naweek ’n Blinkpan-erf besoek waar inwoners vroeër hul kommer oor meer as 30 honde uitgespreek het.
Die erf in Blinkpan waar inwoners vroeër hul kommer oor die welstand van meer as 30 honde uitgespreek het, het oor die naweek aandag van die Middelburg Dierebeskermingsvereniging (DBV) ontvang.

Senior-inspekteur Petro Oberholzer het die woning besoek nadat die situasie die afgelope week onder die DBV se aandag gebring is.
Volgens die DBV het die erf tydens die besoek aansienlik beter vertoon teenoor vorige besoeke. “Die erf lyk baie beter en sommige van die honde is intussen aan gesinne gegee wat beter na hulle kan omsien,” het sy gesê.

Fokus op ‘wurms’
Op die praktyk waar mense glo klein hondjies het ’n ‘wurm’ onder die tong, het snr-insp. Oberholzer verduidelik dat hierdie sogenaamde ‘wurms’ nie werklike wurms is nie, maar ’n klein stukkie weefsel onder die tong wat soms verkeerdelik so beskryf word.
Die sny van ’n hond se tong om hierdie weefsel te verwyder kan lei na ernstige infeksie, komplikasies en selfs die dood van die dier.
Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging het ’n breër opvoedingsproses om gemeenskappe op te leer dat daar nie ‘wurms’ onder die honde se tonge is nie. Die verwydering van sogenaamde ‘wurms’ bly, volgens die DBV, ’n praktyk wat, veral in kleiner gemeenskappe voorkom, en daarom is opvoeding só belangrik in dié dorpies.

Monitering
Die Middelburg-DBV het bevestig dat die saak steeds dopgehou word. Besoeke sal van tyd tot tyd plaasvind om te verseker dat die honde se welstand en veiligheid gehandhaaf word.
Beeldmateriaal
• Die saak het groot kommer onder inwoners van Blinkpan ontlok, nadat berigte en beeldmateriaal verlede week die toestande op die erf onder die gemeenskap se aandag gebring het. Die erf is intussen skoongemaak.
