Dit is mense wat jaag wat hase doodry
Oulike hasies laat sommige oeeeee en ander oetog-neeeeeéééé!!!!
Sommige inwoners verpes hulle, ander kan nie genoeg van hulle kry nie.
Maar wanneer hulle dood in die pad lê, is almal op die oorlogspad.
Twee van Bullerlaan se berugte hasies is in die vroeë oggendure Woensdag doodgery.
Mnr. Arthur Hill van Dagpatrollie en sy gesin het net voor een uur vanoggend patrollie gery, toe hy op die twee hasies afgekom het.

Sy dogter Lourissa Hill (19) was getraumatiseer toe hulle die twee hasies in die pad sien lê. Een het nog gelewe, maar in haar hande sy laaste stuiptrekkings gegee.
Mnr. Hill sê dit is omdat mense in die straat jaag, dat die hasies doodgery is.
Dit is die tweede keer dat twee hasies op een slag in die straat doodgery word.
Daar was aanvanklik net ’n paar hasies in Bullerlaan, maar hulle het intussen aangeteel tot 15.
Inwoners ry van oral in die dorp om na die “oulike” hasies te kyk.

Daar is egter ook Bullerlaan inwoners wat moet toekyk hoe die hase hulle fyntuin opvreet.
Wanneer tot nege hase op een slag in ’n tuin begin vreet, bly niks oor nie.
Daar is sommige inwoners wat van die hase ontslae wil raak en ander wat eerder wil hê dat hulle beskerm word.
Maar almal stem saam… moenie jaag en die hase doodry nie.
