‘n Groep hekmotordiewe het vanoggend in die vroeë oggendure vir bykans 20 minute rustig saamgewerk om ‘n hekmotor in Mineralia te steel.
‘n Omgekrapte Morgan Lewis sê hy het nie net die skade van die hekmotor wat gesteel is nie, maar daar is erge skade aan sy palissadehek aangerig. “My pa moes die hele dag aan die hek werk dat dit net weer kon toeskuif!”
By ander eiendomme ook toegeslaan
Reaksielede van Mid Alarms en Titon Sekuriteit & Alarms het die alarm laat afgaan toe hulle omstreeks 02:30 gesien het die Lewis-gesin se hek staan half oop. Hulle wou Morgan gaan wakker klop, maar toe hulle instap, het die alarm afgegaan.
“Die diewe het egter presies geweet hoe om te kruip en te buk om nie die alarm af te laat gaan nie,” vertel Morgan.
Die oomblik toe die reaksielede die alarm laat afgaan, het Hawk Sekuriteit ook blitsig na die huis gejaag, waar hulle verneem het wat gebeur het. “Hulle het met hommeltuie die hele area gefynkam en ook die polisie laat kom, maar die diewe het die nag in verdwyn.”
Morgan meld dat die reaksielede van Mid Alarms en Titon juis van ander eiendomme af gekom het in Plein- en Oosstraat, waar dit heel moontlik dieselfde groep was wat ook daar toegeslaan het. Daar het hulle weggekom met die hekmotor in Oosstraat, maar kon nie die hekmotor in Pleinstraat vinnig genoeg uitkry nie.
By die buurkompleks het die groep probeer om ook daar ‘n splinternuwe hekmotor (die ou een is twee weke gelede gesteel) uit te haal, maar die hekmotor se alarm het afgegaan en het hulle na Morgan se huis geskuif.
“Hulle moet presies weet hoe die nuwe Centurion Smart hekmotors werk, want myne het ook ‘n alarm in, maar dit het nie afgegaan nie.”

Wat hom dronkgeslaan het, is dat die buite-alarms nie afgegaan het terwyl die diewe besig was nie. Nadat hulle egter na die kringtelevisiemateriaal gekyk het, het hulle gesien hoe vernuftig die groep gekruip en gebukkend geloop het om die alarm-ogies te ontwyk.
Diewe kom voorbereid
Morgan sê die groep het voorbereid gekom. Hy is van mening dat hulle moontlik handskoene en ander beskermde klere gedra het. “Ek het nadat ons voorheen onder misdaad deurgeloop het, my mure hoër gemaak en elektrifisering op my hek en op die mure gesit. Toe ek en ‘n reaksielid van Hawks vanoggend die hek probeer terugskuif op die spoor, is ons geskok. Nêrens op die videomateriaal kan jy sien dat die krag op die hek of heining hul gepla het nie.”
Morgan onthou dat sy vrou gisteraand omstreeks 22:00 opgemerk het dat vier mans stadig verby die huis loop. “Ek dink hulle het ons toe al dopgehou.”
Volgens die kringtelevisiemateriaal het die groep om 01:44 begin peuter aan die hek en omstreeks 02:05 het hulle met hul buit by die hek uitgestap.

Meer as een bende
Hy glo daar is meer as een groep hekmotordiewe wat in Middelburg opereer. Met bykans al die ander vorige diefstalle het die diewe die hekmotors uitgeruk of gebreek uit die grond of sement uit met ‘n koevoet.
Die groep wat sy hekmotor laasnag gesteel het, het dit op hulle tyd gedoen.
Alhoewel ‘n mens op die videomateriaal sien hoe een op ‘n stadium met iets in sy hand, wat lyk soos ‘n koevoet, staan voordat hulle toeslaan, is die hekmotor verbasend netjies uitgehaal. “Die hekmotor is losgeskroef, die skroewe is nog net so daar gekry.”

Al wat ooreenstem met die ander hekmotordiefstalle die afgelope tyd, is dat die diewe balaklawas en ander gesigmaskers gedra het om nie uitgeken te word nie.
- Morgan het ‘n saak by die polisie geopen en dit word ondersoek.
- Sedert die begin van Januarie hierdie jaar is daar ten minste 33 hekmotors in Kanonkop en Dennesig gesteel, met die meeste in Kanonkop aangemeld.
