Middelburg-skrywer se ‘Klein Treetjies’ help kinders lees
’n Plaaslike skrywer het ’n spesiale boekreeks geskryf om kinders lief te maak vir lees.
Ronell Tempel het ’n ‘Klein Treetjies Boekreeks’ geskryf om ’n eenvoudige en praktiese hulpmiddel te bied om grondslagfase-leerders te help om hul leesvaardighede te ontwikkel.
Die reeks bestaan uit vroeë leesstories en sketse, wat spesiaal saamgestel is om jong kinders se selfvertroue in lees op te bou. Sommer terwyl hulle stories en karakters geniet.

Ronell wou seker maak dat elke kind die wonder van lees in die reeks vind, daarom het die skrywer hard gewerk om seker te maak die boekies is beskikbaar in Afrikaans, Engels en Zoeloe.
Daar is 18 boekies, in al drie tale beskikbaar.
“Kinders kry selfvertroue deur klein suksesse.” sê Ronell. “Ek wou my skryftalent gebruik om ons toekomstige lesers en skrywers aan te moedig en uiteindilik trots te kweek.”
Die boekies stel kinders in staat om die stories self te lees of saam met Mamma, Pappa en selfs ’n juffrou, deur die boekie te blaai. Die reeks ontwikkel geletterdheidsvermoë en moedig ’n liefde vir lees aan.
Ronell sê haar passie is om boeke te skep wat kinders help om lees, skryf en kreatiwiteit te ontdek. “Hierdie boeke is met liefde vir kinders, ouers en onderwysers geskep.” sê sy.
Sy skryf sodat elke liewe kind wat deur die bladsye blaai, lees, inkleur en skryf, se selfvertroue, vreugde en verbeelding groei.
Die werksboekie fokus ook op sigwoorde – woorde, wat kinders gereeld in leesmateriaal teëkom. Aktiwiteite in die boek sluit in, hoe om woorde te lees, oor te trek, te skryf, te soek en met prente te verbind.

Met haar fokus op eenvoudige leer en leesgenot, wil die Klein Treetjies Skeppings-boekreeks jong leerders van Middelburg help om hul eerste treë in die wêreld van lees met selfvertroue te neem.
Sy het haar kinders, Sunéll, Kobus en Talané, bedank want sonder deurlopende ondersteuning sou sy ‘nêrens’ gekom het met dié projek wat sy so na aan haar hart koester nie.
Ronell se hoop is om vir Middelburg se leerders wat sukkel en skaam voel, ’n helpende hand te gee met haar leesboekies.
