News

Bejaarde ‘half kaal’ in sterwensoomblikke in King Nyabela Hospitaal

'n Familie eis antwoorde nadat hul bejaarde moeder in 'onaanvaarbare' omstandighede in die King Nyabela Hospitaal gesterf het.

‘n Man kan weens hartseer bykans nie sy woede verwoord oor hoe sy bejaarde ma in die King Nyabela Hospitaal dood is nie.

Net minute voor sy 71-jarige ma tussen hulle gesterf het tydens besoektyd, moes hulle haar naaktheid met ‘n kombersie bedek.

Die man, wat anoniem wil bly, sê hy het Deon Johnston se klagte op die Observer se webtuiste raakgesien oor sy ma wat vir ure alleen gelaat is sonder hulp. Deon het sy moeder ontslaan en besluit om haar eerder tuis te versorg. Dié verhaal het die man laat besluit om ook van sy moeder te vertel sodat die gesondheidsdepartement kan sien dat dit nie net een of twee mense is wat kla nie.

“Iemand moet begin aanspreeklik gehou word vir wat daar aangaan!” het hy kwaad uitgeroep.

Terwyl hy sukkel om sy emosies onder beheer te bring, onthou hy hoe hul ma voor hul oë gesterf het.

Die familie het haar gaan besoek op 14 Maart. Met hul aankoms in haar kamer was almal geskok toe hulle haar sien.
“Sy het oop gelê, met net ‘n doek aan waar almal haar kon sien. Een van die vroue by ons, het haar eers mooi toegemaak voordat ons almal na haar toe is.”

Hy het dadelik besef dat sy ma sterwend is en het hulle by haar gesit totdat sy sekondes later oorlede is. Hulle het die personeel gaan vertel dat sy dood is, waarop hulle net snaaks aangekyk is en ‘n verpleegster haar kom toegooi het.

“Ons weet tot vandag nie waaraan sy dood is nie. Daar staan net ‘natural causes’ en ons moet tevrede wees daarmee!” sê hy kwaad.

Dit was nie die enigste klagte wat hulle gehad het oor die hospitaal nie.
Volgens hom het hulle sy ma ‘n paar dae vantevore ook laat opneem. Hulle was net so ongelukkig oor die behandeling, maar sy moeder het aarvoeding nodig gehad en moes hulle haar noodgedwonge laat opneem.

“Ek het een middag vir haar iets gevat om te eet. Hulle het geweier dat ek dit vir haar gee en gesê húlle sal dit doen. Toe ek later daar kom, het dit nog net so daar gestaan.”

Hy meld dat, “hulle my ma in ‘n kot gesit het en niks was binne bereik vir haar nie. Sy kon haarself in elk geval nie self help nie! Hulle het vere gevoel vir haar!”

Hy het moedeloos gesê dat mense tot verantwoording geroep moet word, want niks verander nie.
“Ek is bitter ongelukkig!”

• Buiten die beweerde swak diens, het hy genoem dat daar oral naby die hoofingang hope sigaretstompies gelê het en dat die gras ook kniehoogte deur die sement groei tussen die geboue.

Soos talle ander vorige klaers, is sy opinie dat dit nie help daar is ‘n nuwe hospitaal gebou, maar die diens is “steeds so swak soos by die ou hospitaal nie. Die bestuur van die personeel moet verander word!”

• Christopher Nobela, die gesondheidsdepartement se mediawoordvoerder, het in antwoord op ons medianavraag die volgende antwoorde verskaf:
• “Die pasiënt se eerste opname was op 16 Desember 2025 in die vroulike chirurgiese saal, en sy is op 18 Desember 2025 ontslaan.
• Die tweede opname was op 5 Maart 2026 in die vroulike mediese saal.
Diagnose: akute gastro-enteritis met dehidrasie, lae bloeddruk, bloedarmoede en hardlywigheid.
Volgens kliniese aantekeninge was die pasiënt ten volle by haar bewussyn, maar kon sy nie self beweeg nie en het sy periodes van rusteloosheid ervaar.”

“Die pasiënt is in ’n bed met beskermende relings versorg om haar te beskerm, aangesien sy verswak en verward was. Sy is ook gevoer.
Die pasiënt het ook ’n doek gedra om druksere as gevolg van urinering te voorkom. Sy is op 6 Maart 2026 ontslaan.”

• “Die pasiënt is vir ’n derde keer op 12 Maart 2026 in die vroulike mediese saal opgeneem. Sy is op 14 Maart 2026 van hospitaalklere voorsien en het middagete ontvang.
Sy is op 14 Maart 2026 om 15:53 oorlede.
• Die hoofklagte by opname was braking vir twee dae en buikpyn.”

• Met betrekking tot die klagtes oor sigaretstompies wat voor die hospitaal se hoofingang lê, is gesê dat dit daar gegooi word deur rokende pasiënte en besoekers, maar dat gereelde roetine-skoonmaak van die terrein plaasvind.
“Personeel is opdrag gegee om op geskeduleerde tye skoon te maak.”

• Op die bewering dat die gras deur die sement groei tussen die geboue, was die antwoord dat “die hospitaal tans besig is met werwingsprosesse vir die aanstelling van bykomende terreinpersoneel om die doeltreffendheid van terreinonderhoud te verbeter”.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button